PRETORIA. – Die ouers van ‘n dogtertjie, skuilnaam Baby T, word aangekla van die mishandeling van hulle kind. Baby T is vir die eerste keer op twee maande in die hospitaal opgeneem met asemhalingsprobleme. Daar is gevind dat sy ernstige ribfrakture opgedoen het. Op vier en ‘n halwe maand is sy weer in die hospitaal opgeneem en daar is gevind dat sy 18 frakture oor haar liggaam gehad het.
Volgens IOL het die ma (22) en die pa (24) in die hooggeregshof in Pretoria voorgekom. Die ouers, wat nie genoem mag word nie om die kind se identiteit te beskerm, staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding en kinderverwaarlosing. Albei het voor regter Hennie de Vos onskuldig gepleit.
Die ouers is in Augustus verlede jaar in hegtenis geneem nadat AfriForum se privaat vervolgingseenheid dokters en ‘n maatskaplike werker bygestaan het om strafregtelike klagtes in te dien.
Die ouers word aangekla van die mishandeling van hul eie kind
Die baba is verlede jaar minstens drie keer in die hospitaal opgeneem – die laaste keer in Julie. Sy het verskeie frakture gehad wat volgens dokters ooreenstem met kindermishandeling.
Baby T. was tydelik in haar ouma se sorg geplaas, maar het teruggekeer na haar ouers toe. Sy is daarna vanaf haar ouers verwyder en in ‘n ander familielid se sorg geplaas.
Die staat het vandeesweek die eerste getuie geroep, wat getuig het dat die moeder die baba verwaarloos het en dat sy ondervoed was.
Lees ook: China bevestig eerste menslike geval van voëlgriep



