Die 55-jarige George Hart is al vir die afgelope 15 jaar ‘n karwag buite die landdroshof in Kimberley en wil binnekort sy eie besigheid begin.
Hart, wat op ‘n goeie dag R350 in sy sak steek, sê sommige dae gaan hy met leë hande huis toe. “Mens aanvaar dit maar. Wat kan ‘n man dan maak?”
Hart woon in Roodepan en is getroud. Sy jongste dogter is nou 13 jaar oud.
Voordat hy hofbesoekers se motors begin oppas het, het hy ‘n groentewinkel besit. “Besigheid het agteruitgegaan en toe het ek maar besluit om dit te los.”
Hart sê hy beplan om een van die dae ‘n karwasbesigheid daar oop te maak.
“Net nie nou in die winter nie,” lag hy. “Dis te koud!”



