Die meeste mense is gelukkig as hulle Covid-19 die eerste keer hokslaan, maar wat van ’n tweede keer?
André Smith (38) het nie net een keer Covid-19-positief getoets nie, maar twee keer. Alhoewel die eerste keer nie vir hom so erg was nie, was hy die tweede keer na weke nie seker wanneer hy gaan herstel nie.
LEES OOK: Vrou (71) oorlede na sy aan vleis verstik
Altyd tussen mense
“As besigheidseienaar is dit moeilik, omdat jy heeldag met mense werk en tussen mense is. Jy sit jou masker op en saniteer sover as moontlik, maar enigiemand kan deur die virus geraak word.”
Die eerste keer toe André in Oktober 2020 positief getoets het, het hy geringe simptome gehad en by die huis geïsoleer.
“Natuurlik was dit nie lekker om siek te wees nie, maar die virus het my in daardie stadium nie so erg getref soos wat dit ander mense het nie. Ek was bietjie koorsig en het my smaak verloor.”
Hy was na sy isolasie gou weer op die been en terug by die werk.
Toets vir ‘n tweede keer positief
Slegs ’n paar maande later, in Desember 2020, het hy weer siek geraak en simptome gehad.
“Ek het weer sleg begin voel en het geweet dit is Covid omdat die simptome dieselfde was. Ek het eers twee dae later positief getoets.”
Hy het egter net al hoe sieker geword.
“Ek het erge lyfseer, warm- en kouekoors ervaar, geen smaak gehad nie en het gesukkel om asem te haal.”
Raak erger siek
Na vele doktersbesoeke, hospitaal en suurstof, het die virus na sy longe versprei en was dit byna onmoontlik vir hom om asem te haal.
“Dr. Immelman het my op antibiotika en ander medikasie gesit, sowel as pille wat my bloed verdun het.”
“As ’n mens so siek is, is daar baie onsekerhede oor wanneer en óf jy wel gaan herstel. My lyf het ’n hele paar kere vir my gesê ek is op pad uit. Ek was ’n paar keer op die punt om vir my familie en vriende te sê ek gaan nou, maar die Here het my gehelp om my gedagtes te bewaar en kalm te bly.”
Weer aan die gang
Smith het na meer as ’n maand uiteindelik van die virus herstel en is vandag gesond en weer aan die gang.
LEES OOK: Rugbydrome tydens Covid-pandemie – die effek op ons tieners



