September 24, 2021

Mila met haar drie bene steel harte op Facebook

Tot vandag toe weet niemand waar sy vandaan kom nie.

Driebeen Mila steel harte op Facebook

Driebeen Mila steel harte op Facebook Foto: Verskaf

KIMBERLEY. – Om een hond te red, sal nie die wêreld verander nie, maar vir daardie een hond het die wêreld wel verander. In Mila se geval was dit die waarheid toe haar omstandighede van alleen en koud na liefdevol en warm verander het.

Op die aand van 19 Junie het Scorp Security ‘n oproep van ‘n inwoner in Ernestville, Kimberley gekry wat gesê het daar is ‘n beseerde hond op die sypaadjie onder ‘n boom. Die hond, wat Mila genoem is, het erg gebloei. Niemand kon naby haar kom nie; sy het dadelik begin grom.

‘n Noodoperasie en amputasie vir Mila

Scorp Security het dadelik plan gemaak en gereël dat iemand die hond gaan haal en haar na die Kimberley Veterinary Clinic neem. Sy is daar deur ‘n veearts ondersoek. Dit is toe die slegte nuus begin het. Mila het breuke aan haar been-, heup- en bekkenareas gehad.

Daar is gesê noodoperasies is nodig. ‘n Amputasie was die beste opsie. Op 21 Junie is die operasie gedoen en Mila se agterbeen is geamputeer. ‘n Goeie Samaritaan, wat graag anoniem wil bly, het haar mediese rekeninge by die veearts betaal. Die hond waarvan niemand eens op ‘n tyd geweet het nie, het baie vinnig in baie se harte geklim. Gebede van regoor die wêreld het ingestroom.

Haar lewe verander

Op 23 Junie het ‘n dame Mila gaan besoek. Nadat sy Mila gesien het, kon sy nie ophou aan haar dink nie. Hulle het dadelik op mekaar verlief geraak. Sy was glad nie bang as die vrou haar besoek nie. Vir ander besoekers was sy so bang, sy sou sommer weghardloop – ja hardloop met drie bene en dit een dag na die operasie.

Op 26 Junie het haar lewe verander. Mila is aangeneem, sy is saam met daardie vrou huis toe. Vandag is sy gelukkig en gesond. Haar been genees ook baie goed. Sy hardloop en spring self! Spring op die bed van haar nuwe eienaar sodat sy snoesig saam met hulle kan lê. Mila is al agter haar nuwe eienaar aan soos ‘n skaduwee.

Volg haar storie

Sy doen al alles alleen sonder enige hulp. Niemand is meer nodig om haar vas te hou of te help nie. Sy is so ‘n sagte hond. Sy is wel doodbang vir skoonmaakitems, soos ‘n besem of mop. Sy raak sommer vinnig paniekbevange as iemand rondom haar mop.

Tot vandag toe weet niemand waar sy vandaan kom nie. Die rolspelers het foto’s van haar op sosiale media geplaas, maar niemand het na vore gekom nie. Niemand weet ook presies wat gebeur het nie, maar daar word geglo sy is deur ‘n motor getref.

Indien jy op hoogte wil bly van Mila, volg haar storie op Kimberly’s Pet Setting op Facebook. Jy kan ook ‘n bydrae lewer tot hierdie soort projekte deur Kimberley Veterinary Clinic te kontak en te vra vir Kimberly’s Pet Sitting se verwysings.

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *