Arend weer vry ná sy gered word

Deel hierdie storie / Share this story

Featherhead, ‘n Verreaux-arend, het wonderbaarlik herstel na sy in Februarie vanjaar by die Kimberley Veterinary Clinic aangekom het en nie eers self kon regop staan nie.

Anmari Coetzee, verpleegster by Kimberley Veterinary Clinic, sê Ronelle Visagie moes Featherhead op De Aar gaan haal en sy kon toe skaars regop staan of haar regterklou oopkry.

“Ons kon met radiografie glad nie ‘n gebreekte been sien nie,” sê Anmari. “Om verdere kontraksie op haar klou te voorkom, het ons dit om ‘n groterige tennisbal vasgemaak.”

Ronelle moes na twee dae die bal verwyder en Featherhead se klou het oopgebly, maar sy was nog baie swak en lam in haar been en sy moes vir nog vier weke in ‘n hok aansterk. Sy is ná die vier weke in ‘n groter hok geplaas om te kyk of sy sou vlieg en na een dag het sy so goed gedoen dat sy vrygelaat kon word.

Sy is op dieselfde plaas as wat sy gered is, vrygelaat. “Sy het sterk gevlieg toe sy vrygelaat is en na ‘n lang vlug het sy op ‘n koppie geland waar haar maat vir haar gewag het.”

Die kinders van die paartjie wat haar gered het, het haar Featherhead gedoop en beide was teenwoordig toe sy vrygelaat is. “Dis ‘n ervaring wat hulle nooit sal vergeet nie, sê Anmari.