NOORD-KAAP. – Frank Lawrence, die GWK-ondervoorsitter asook ‘n baie bekende boer in die Jacobsdal-omgewing, is Saterdag 24 Julie oorlede.
Volgens ‘n mediaverklaring wat uitgereik is deur GWK is Frank op sy plaas naby Jacobsdal beseer terwyl hy besig was om boerdery-implemente te kalibreer. Frank is deur bewegende toerusting getref en het ernstige inwendige en ander beserings opgedoen. Die voorval het op Maandag die 19de Julie plaasgevind.
Volgens familielede het hy gedoen waarvoor hy lief was, saam met sy mense toe die ongeluk gebeur het.
“Ons is dankbaar dat hy nie meer pyn het nie, en ons waardeer die sorg en ondersteuning vanaf
baie mense gedurende die laaste paar dae. Hy het geleef vir die mense rondom hom. ”
Frank is oorlede na ‘n ongeluk op sy plaas
Llewellyn Brooks, GWK Groep Besturende Direkteur, sê dit is moeilik om die nuus te deel oor Frank se heengaan: “Maar in hierdie hartseer tyd vier ons die lewe en die nalatenskap van ‘n man wat met sy hart gelei het en ons is dankbaar vir die tyd wat ons hom geken het. Frank het nie net ‘n belangrike rol in GWK as ‘n besigheid gespeel nie, maar hy het ook
‘n verskil gemaak vir ons mense, die breër gemeenskap, boere van regoor die land en die landboubedryf. Ons het almal vir Frank geken en was lief vir die man wat hy was.”
Frank was lief vir boer en behalwe dat hy sedert die ontstaan van die GWK-direksie die maatskappy gedien het, het sy leierskap uitgebrei na baie ander forums in die bedryf. Hy was voorsitter van GWK vanaf 2012 en het sedert 2020 as ondervoorsitter gedien.
Frank is die 24ste Julie in die hospitaal oorlede
Volgens Hennie Coetzee, GWK-voorsitter, was Frank meer as ‘n kollega en vriend, hy was ‘n sielsgenoot. “Sy bydrae tot GWK, baie verskillende sakesektore en die breër gemeenskap was enorm. Daar is ‘n gesegde dat ‘n sagte wind ons voetspore sal wegwaai die dag van ons dood en al wat oorbly, is ons herinnering. Die herinnering aan Frank is so groot, dit is enorm.”
Familie het besluit om nie ‘n begrafnisbyeenkoms te hou nie
Na aanleiding van die Covid-19-protokol het die familie besluit om nie nou ‘n begrafnisbyeenkoms te reël nie, maar wel dat familie, vriende en sakevennote later bymekaar sal kom om van Frank afskeid te neem.
Lees ook: “Jy moet kan voor loop, maar uit respek”



