KIMBERLEY. – Boon Boonzaier, die skoolhoof van Laerskool Newton, gaan vanjaar vir die vierde jaar die Global Leadership Summit hier bywoon.
Hy sê hy en ’n paar van sy kollegas gaan jaarliks na hierdie byeenkoms toe en hy kan nie wag vir hierdie jaar sn nie. Hy is ook nie net ’n leier as die skoolhoof nie, maar ook in sy klaskamer, op die sportveld, by die kerk en by sy huis.
Leierskap
“As ’n onderwyser moet jy heeltyd van jouself gee en uit jouself tap en hierdie is ’n gulde geleentheid waar jy kan terugsit in jouself en by ander mense leer, veral in my geval van leierskap. Die skool en onderwysers se werk is om leiers op hulle gebied te wees. Jy leer nie net praktiese goed nie, maar dit is ook sielevoedsel.”
Hy sê die eienskappe en lesse wat mens by hierdie summit leer, kan altyd gebruik en toegepas word.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe elke leier se styl verskil. Elkeen is uniek, maar jy kan ’n bietjie by elkeen leer. Selfs dié wat lank in die onderwys is, leer nuwe metodes en sien nuwe goed. Mens is nooit té oud om te leer nie.”
Hy vertel ook ook hoe goed dit is om by kundige mense te leer. Hulle kom gee vir jou raad en vertel jou hoe hulle dit doen.
Positiwiteit
“Enigiemand kan na hierdie summits toe gaan. Elkeen is êrens ’n leier. By jou huis, by jou werk, tussen mense. Ons word daagliks so gebombardeer met negatiewe goed, maar hierdie is die positiewe. Hier is die kans om ’n klomp positiwiteit te versamel. Dit gaan oor om ’n verskil te gaan maak. Hierdie mense motiveer en inspireer jou,” sê Boonzaier.
Verskil maak
Hy sê indien jy bereid is om ’n verskil te maak en indien jy wil leer, dan is hierdie die perfekte byeenkoms om by te woon. “Indien jy na hierdie byeenkoms toe gaan, moet jy bereid wees om te verander en te verbeter.”
Voor loop
“Ek voel om ’n leier te wees, moet jy met mense kan praat en kan werk. Jy moet respek hê vir jouself en vir mense. Jy moet die mense vir wie jy ’n leier is, respekteer. Jy moet kan voor loop, maar uit respek. Die mense moet agter jou aankom uit respek. Orals waar jy met mense werk, moet jy ’n leier kan wees, want dit strek verder as net jou werk.”
Gassprekers
Hy sê hy kan nie net een gasspreker uitsonder nie en sien nie net na een spesifieke spreker uit nie, maar eerder na al hierdie jaar se sprekers.



