Daar’s sand in my are (Marika du Toit-van Heerden)

Marika du Toit-van Heerden, ’n opgeleide maatskaplike werker, se bundel getiteld Daar’s sand in my are het onlangs die lig gesien. Sy nooi lesers in die Voorwoord om deur middel van haar versameling stories, vertellings en penmerke by haar aan te sluit en saam te reis na Namibië, die Karoo en ook Boesmanland. “Ontmoet wonderlike karakters en ervaar saam met my die ritme en die grasie van die natuur, die mens en dier.”

Ek het Marika se uitnodiging aanvaar en haar toegelaat om my te trakteer op wat sy haar “inkstem” noem. Die meeste van haar skrywes was voorheen te lees op Facebook en ook op haar blog, Doldaisy. Sy is al vir sowat 13 jaar lank ’n motiveringspreker en deel graag haar stories – wat sy sê die reine waarheid is – met haar waarderende gehoor. Sy fokus graag op die vertel van stories as ’n bemagtigingsmiddel. Die lokteks op die agterblad lui: “Wanneer ’n ervaring homself met woorde begin vorm en hy in sinne begin stap met ’n geïnspireerde skrywer se hartsnare wat die leisels hou, word ’n storie die lewe gegun.”

Hierdie kranige storieverteller, ’n boorling van Namibië, dra haar bundel vol mymeringe op aan elke mens en dier en bos wat die versugting na water ken en telkens opstaan uit ’n droogte – van watter aard ook al. “Ons is ’n tawwe lot, ons Namibiërs,” skryf sy op bladsy 118. “Ons maak dit deur die droogte- en die swaarkrytye. Ons het vasbyt in ons onderste waters en ons kan boonop droom.” Haar liefde vir mens en natuur en haar deernis vir diegene wat swaarkry loop soos ’n goue draad deur haar pennevrug. Sy put veral inspirasie uit geharde streke waar ontbering – in hierdie bundel verwoord sy veral die ritme van droogte en reën – aan die orde van die dag is, en waar mens en dier ten spyte van die uitdagings met bewonderenswaardige veerkrag voortbeur en die beste maak van hulle omstandighede.

Ek het veral gehou van die wyse waarop Marika haar karakters hulle eie stories laat vertel. Sy skryf byvoorbeeld van’n plaaswerker wat deur ’n perd die veld in en oor klippers gesleep is en sy regteroor beseer het. Ene Oros vertel dan self: “Hy hang sommer so ’n flenterbesigheid hier langs my kop aan ’n lang stuk vel en hy klap my hier dwarsoor my gesig. So ’n lel vir ’n ding.” Hy vee met sy hand oor sy gesig om te wys waar die stuk vel-lel hom in die gesig geklap het en vertel verder: “Nee-wat, toe sny ek hom net daar met die knipmes af en ek smyt hom in die veld weg.” Hierdie storie is vir my tiperend van die mens se instink om te oorleef en dus ’n plan te prakseer – presiés dít wat Marika so bewonder en heel suksesvol in haar skryfwerk na vore bring.

Ek het ook geniet hoe sy klank gebruik om atmosfeer te skep en haar lesers deel te maak van haar stories. As voorbeeld hou ek enkele sinne uit “Eenvoud” op bladsy 53 voor: “’n Paar skape wei om die huis. Dis doodstil. Ek hoor hoe hulle kou. Hoe hulle malers die gras en bossies fynwerk. Dit voel so naby dat ek kort-kort met skrefiesoë oor die draadhekkie kyk of daar nie een is wat dalk wil inkom nie,” en “Elke dan en wan gee ’n kriek sy skril plaaslynlui – ’n paar kortes en ’n lange voordat hy skor afbreek.”

Dis in hierdie einste kortverhaal dat ek een van die mees atmosferiese en mooi sonsopkomste uit ’n skrywer se oogpunt beleef: “’n Hartseer verlatenheid pak my beet en gedagtes van behoort-aan, herkoms, wortels, familie en bekendheid kom lê stil en roerloos in my binneruimtes in die vroeë oggend; ’n heilige soort stilte wat sagkens ’n ritsel deur jou binnekant stuur. Skielik is dit daar … ’n reuse, rooi bal wat sy bol op ’n gegewe plek op die horison begin uitbult. ’n Paar sekondes later beur die son vlammend oor die skimlyn en vul die lug met sy warm asem vol moed. Ek ervaar ’n vloed van lewe wat die son oor die veld en oor die plaas uitstoot. ’n Hartseer hoop vat pos, een van daardie wat maak dat mens sommer hardop huil omdat dit wat is, is soos dit is. En oor dit mens kans gee om te besin voor jy weer moet aanstap – grasie (56).

Marika deel pêrels van wysheid wat haar lesers noop om vir ’n wyle daaroor na te dink en selfs introspeksie te hou. Hier neem sy byvoorbeeld die gekraakte modderbodem van ’n leë dam in droogtetyd waar: “Dié oggend was dit, anders as twee maande vantevore, doodstil in die dam. Nie ’n kiewiet of ’n korhaan of ’n kelkiewyn in sig nie. Net die eenvoud van die patroonmodder en die hope onbedorwe skatte wat daar binne geberg word – skatte wat jou wys hoe ongekunsteld en pretensieloos die natuur is. ’n Rykdom wat mens noop om ’n karos van nederigheid om jou kaal skouers van waan te vou. Want op die damvloer se mat speel ’n eenvoudige realiteit hom af; ná die lewe kom die dood, kom die lewe, kom die dood … Ad infinitum” (59).

Die karakters wat in Marika se stories verewig word, is in hulle opregte eenvoud té groot om tussen die bladsye van haar bundel te bly. Hulle klim uit en kom staan voor die leser. Daar is Solly en Sara Louw, Kandas, Denzel Washington, Bokwa, Caya, Klaas, Bollie, Maria Opraap, Sabina, Adam Basson, oupa Stoffel, ouma Waai, en ander. Fiefie nooi Marika hartlik en trots om na die huisie waarin sy grootgeword het te kom kyk: “Mevrou, hierdie is my wêreld. Dis my mense, dis hulle wat my tot hier gebring het vandag. Ek is baie lief vir hulle. Ons is eenvoudig, maar in hierdie huis is baie warmte en baie liefde.” En Marika besef: “Menswaardigheid en om te behoort is … ’n universele behoefte wat oor alle grense strek!” (48)

Haar gebruik van personifikasie is ook opmerklik. Hier is ’n voorbeeld: “Die wind wat een oomblik nog speels uit al die windrigtings gedans het, het skielik in sy spoor loop staan en toe met al sy mag uit die noorde begin stoot. Met sy koel asem het hy die wolke en die grysheid en die stof in woeste bollings aangewaai” (61). Weemoed kom klop ook by haar aan, lig sy ken, kyk haar vol in die oë en sê: “Ek kom van die wete dat mens niks vir ewig kan vashou nie. Dat alles van verbygaande aard is. My ma is die sterre waaronder jy saans speel en soek. My pa is die eindeloosheid van die uitgestrektheid van hierdie grond wat jou so betower. Dis iets wat jy nie onder jou vlerk kan berg nie. Die tye saam met geliefdes is goed, maar hulle sal onder jou vashou uitglip wanneer die tyd kom” (81).

Marika vertel as heerlike toegif vanaf bladsy 124 oor haar dag tot dag wedervaringe en waarnemings toe sy en haar Janman gedurende Februarie 2021 saam met ’n groep avontuurlustiges op ’n staptog van 100 kilometer deur die Namibwoestyn vertrek het. Hierdie skryfsels is vroeër ook deur Litnet op Facebook gedeel. Sy skryf onder meer: “My hart, my siel, my asem, my alles lê in die sand tussen die duine van die Namibwoestyn en in die eindeloosheid van sy skoonheid. Dit loop deur my murg van die tyd af toe niemand my nog geken het nie. Ek sal terugkom. Dis my lewensasem” (138). Sy sluit die bundel dan ook heel gepas af met haar gedig getiteld “groet”: “as ek eendag dood is / moet julle my as oor die boesmanlandse son gaan strooi”.

Marika verwys as pitkos onder meer na die skrywers Jan J. van der Post, F.A. Venter, Uys Krige en A.G. Visser se werke en verklap daarmee haar bewondering vir hulle wat wysheid en die natuur so mooi op papier kon beskryf. Sy haal die volgende paragraaf aan uit Venter se Rentmeesters: “Droogte is soos siekte. Mens moet hom verduur en al die ellende daarvan in jou opneem voordat hy sy loop uit jou lewe en van jou plaas af sal kry …”(57). Dan het ek ook stilgestaan by al die plekname (bv. Holboordskolk, Breekkierie en Bloedkroeg), dierename (bv. bloukopkoggelmander, gompoue en gemsbokmuis) en plantname (bv. ghobbabos, driedoringbos en witgatbome).

Ek het heerlik aan Daar’s sand in my are gelees. Hierdie selfgepubliseerde bundel van 140 bladsye kon gebaat het by strenger redigering, proeflees en selfs manuskripontwikkeling, maar die skrywer se mensekennis, fyn waarnemingsvermoë, goed ontwikkelde sin vir humor en lewendige beskrywings maak van dié bundel ’n aangename leeservaring. Haar lewenslus is aansteeklik, en so ook haar liefde vir mens, dier en plant. Die stories laat jou verlang om óók die mooi in die lewe raak te sien – al moet jy soms harder as gewoonlik soek daarna.

Ek hoop van harte dat die talentvolle Marika wat so onbevange uit haar hart en siel skryf en lesers vergas met woorde wat diep in hulle harte inkruip lankal reeds besig is met ’n volgende boek.

Skaf ’n gedrukte kopie of die Kindle e-boek van Marika du Toit-van Heerden se Daar’s sand in my are aan op haar webtuiste by www.woordvirwoord.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *