KAAPSTAD.- Kaapstad is die eerste Suid-Afrikaanse stad wat gekies is om die Formule E-toernooi aan te bied. Die geleentheid sal groot deure vir beleggings en werkskepping vir Kaapstad oopsluit.
Volgens The Good Things Guy sal Kaapstad die gasheer vir die ABB FIA Formule Wêreldkampioenskap op 26 Februarie 2022 wees. Die aankondiging is deur Federation Internationale de l’Automobile (FIA) gemaak.
Iain Banner, voorsitter van e-Movement (Edms.) Bpk. sê: “Ons is verheug dat ons op die kalender opgeneem kan word. Dit na twee jaar se bod om hierdie droom ‘n werklikheid te maak.” e-Movement (Edms.) Bpk is die promotors van wêreldkampioenskappe vir Kaapstad.

e-Movement werk baie nou saam met Stad Kaapstad. Hulle sal voortgaan om prosesse af te handel sodat daar aan al die vereistes voldoen kan word om ‘n suksesvolle gebeurtenis vroeg in 2022 te kan aanbied.
Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het gesê: “Kaapstad is verheug om as een van die stede gekies te word om aan die Formule E-toernooi deel te neem. Die geleentheid sal die grootste potensiaal vir beleggings, werkskepping en toerisme ontsluit deur Kaapstad as die resiesbestemming van die vasteland van Afrika te identifiseer. Ons sien daarna uit om aan hierdie geleentheid te werk. Die stad het die nodige infrastruktuur en vaardighede om ‘n geleentheid van hierdie grootte aan te bied. Ons is vol vertroue dat die byeenkoms Kaapstad se wêreldwye reputasie as die wêreld se toonaangewende fees- en geleentheidsbestemming verder sal bevestig. ”
Lees ook: Baba se gesig tydens noodkeiser oopgesny, familie wil regstappe neem



