GEORGE. – Die man (47) wat glo ‘n bejaarde (69) tydens ‘n sake-afspraak met petrol gegooi het en probeer beroof het, is gevind en in hegtenis geneem.
‘n Wenk oor waar die verdagte hom bevind, is van ‘n lid van die publiek ontvang. Die polisie het op ‘n huis in Rustenburg toegesak waar hulle die man aangekeer het. Die verdagte bly in aanhouding en hierdie saak word na Knysna oorgeplaas waar die verdagte op Maandag 5 Julie 2021 in die hof sal verskyn.
Man gooi glo bejaarde met petrol by Waterfront
Die verdagte staan tereg op aanklag van poging tot moord en poging tot roof. FiND iT het vroeër berig daar word beweer ‘n bejaarde vrou is deur ‘n man na ‘n saketransaksie naby die Waterfront op George gelok. Met sy aankoms het die man in haar voertuig geklim en haar toe glo begin dreig. Hy het na bewering petrol op die vrou gegooi en probeer om haar van haar besittings te beroof. Sy het daarin geslaag om te ontsnap en het gaan hulp soek.
Die verdagte het glo daarna te voet gevlug. Foto’s van die verdagte is dadelik op sosiale media versprei en mense is gevra om die polisie in te lig indien hulle weet waar hy hom bevind. Die polisie het almal bedank wat gehelp het dat die verdagte in hegtenis geneem is.
LEES OOK: Man word gesoek na poging tot roof op Knysna
Hou FiND iT dop vir die nuutste nuus.



