Kleur jy graag jou hare of hou jy dit so natuurlik as moontlik? Indien jy wel jou hare kleur, is dit belangrik vir jou om te weet wat in die haarkleurmiddels is wat jy aan jou hare aanwend.
Volgens Femina is dit deel van baie vrouens se leefstyl om hare te kleur en moet dit elke paar maande gedoen word. Vir baie is dit om ‘n gewenste haarkleur te kry. Vir ander is dit belangerik om hulle grys hare weg te steek en so hulle ouderdom te verbloem.
Een van die bestanddele in die meeste haarkleurmiddels is ammoniak
Ammoniak is verantwoordelik daarvoor om jou hare se PH op te stoot. Die hoë PH veroorsaak jou hare se kutikulas om oop te maak, waarna die kleur dan tot binne in die korteks kan indring. Die korteks is die dikste laag van jou hare wat die meeste kleurpigmente bevat.
Ammoniak breek jou hare se strukturele integriteit af omdat dit proteïen- en vogverlies veroorsaak. Dit veroorsaak mettertyd dat jou hare swak, droog en ongesond raak.
Verder is daar ook waterstofperoksied in haarkleurmiddels. Dit beskadig nie net jou hare nie, maar bevorder ook die ontwikkeling van grys hare. Waterstofperoksied is ‘n bleikmiddel wat gebruik word as die ontwikkelaar van kleurmolekules in die haarkleurmiddels. Dit veroorsaak beskadigde, droë hare. Waterstofperoksied deaktiveer die ensiem tirosinase. Tirosinase help met die produksie van melanien, jou haarpigment. Dit veroorsaak dat jou hare stadig maar seker gryser raak.
Hierdie bestanddeel is giftig vir baie dele van jou liggaam
Parafenileendiamien (PPD) kom in haarkleurmiddels, veral in donkerder kleure, voor. Dit kan jou immuunstelsel, vel, senuweestelsel, asemhalingstelsel, lewer en niere aantas PPD stimuleer jou immuunstelsel wat allergiese reaksies soos veluitslag en talle ander simptome kan veroorsaak.
Die gebruik van hierdie bestanddele in haarkleurmiddels kan jou in ‘n bose haarkleurkringloop vasvang in ‘n poging om grys hare weg te steek. Sodoende beskadig jy jou hare. Daar is wel al ander haakleurmiddels ontwikkel wat nie hierdie skadelike stowwe bevat nie. Dit sal op die lange duur beter vir jou haargesondheid wees om eerder van hierdie soort produkte gebruik te maak.



