Boeta Dippenaar: van Protea-krieketspeler tot CEO

Deel hierdie storie / Share this story

Op die eerste verjaardag van die intensiewesorg mediese lugambulansdiens, Rocket HEMS, het Henley Air ook vandag sy nuwe hoof uitvoerende beampte, Boeta Dippenaar, aangekondig.

Boeta, voormalige Protea-krieketspeler en hoofvlieënier vir Henley Air, asook Rocket HEMS, sal nou formeel die teuels by Henley Air, een van die vinnig-groeiendste lugvaartmaatskappye in Suid-Afrika, oorneem. 

Bly kalm, volhard

Om kalm te bly in stresvolle situasies, hard te leer, te volhard en om te glo in iets groter as jy, is van die eienskappe wat Boeta vanaf die krieketveld tot op die vliegveld lanseer.

Henley Air glo in uitnemendheid, betroubaarheid, veiligheid, omgee en volhoubaarheid.

“Spesifiek met die oog op Rocket HEMS, wil ek fokus op die menslike aspek. Dis so belangrik in ons werk. Die lewe is kosbaar en jou gesondheid is jou grootste bate.”

Menslikheidsaspek

Boeta vertel van ’n vlug ’n week of twee gelede, vanaf De Aar. “Ons een paramedikus, Tom Watson, is baie goed met mense. Hy het gesien die ma van die pasiënt kry swaar. Hy het oorgegee aan die ander paramedikus, opgestaan en die ma se nommer gevra. Hy het die ma deurlopend op hoogte gehou. Met die landing in Vereniging, het hy die ma deur middel van ’n video-oproep gebel om te wys die pasiënt is oukei. Mens hoor nooit hiervan nie. Dit is van die elemente wat ons wil tuisbring by ons pasiënte, asook ons span.”

Rocket HEMS is ’n eerstewêreld intensiewesorgeenheid in ’n lugambulans, wat mediese sorg in ’n derde-wêreld bied. Met vyf “Airwolf”-helikopters (Bell 222) en drie Bell 230’s wat wag om omskep te word in lugambulanse, is dié nooddiens na slegs een jaar besig om een van Suid-Afrika se grootse lugambulansdienste te word.

ROCKET HEMS op ‘geloof’ begin

Boeta sê die span het Rocket op “geloof” begin. “Ons glo in ons bemanning.”

Die aanslag het gewerk. Een jaar later en dié lugambulansdiens het dit reggekry om, selfs in die middel van ’n ongenaakbare grendeltydperk in Suid-Afrika, ’n sukses te maak.

“Onkunde is soms ’n seëning,” lag Boeta oor die vraag van deur hoeveel tegniese hoepels hulle moes spring om Rocket ’n werklikheid te maak.

Een van die bestanddele van sukses is die maatskappy se toewyding om hulle werknemers en bemanning te ondersteun om eienaarskap van hulle talente en potensiaal te neem. “Dit is tot voordeel van die maatskappy, hulle gesinne, hulleself en ook die gemeenskap van Suid-Afrika.”

Ontsag vir skoene volstaan

Alhoewel Boeta baie opgewonde oor die toekoms is, het hy geweldige ontsag vir die skoene wat hy moet volstaan.

Hy verwys na André Coetzee, die uitvoerende voorsitter van die Henley Air-groep van maatskappye. Coetzee knik inskiklik wanneer hy gevra word oor die “groot skoene” waarna Boeta verwys. Hy erken dan nederig, ja, hy het ’n PhD in lugvaartbestuur, ‘n MBA, is ‘n professionele ingenieur, ‘n vlieënier met meer as 15 000 vliegure, ’n vliegtuigonderhoudsingenieur, ‘n aangewese vlugondersoeker vir CAA (Civil Air Aviation) en het ‘n graad in meganiese ingenieurswese. Asof dit nie genoeg is om enige sakeman wat in sy voetspore moet volg bang te maak nie, is hy ook ‘n genoot van die Royal Aeronautical Society in Engeland.

Vestig in middel van grendeltydperk

Coetzee het in die stort aan die naam Rocket gekom. Dit beteken rapid on call emergency transport. “Dit het lekker geklink. Ons het al in 2011 aan die idee gedink om ons eie lugambulans te begin, maar dit het nooit die momentum gekry wat ons beoog het om vrugte af te werp nie,” sê André.

Die maatskappy het ’n groot kontrak in 2019/2020 verloor en moes ten spyte van teëspoed op vaardigheid en passie steun om Rocket in die middel van ’n ekonomiese bloeityd verlede jaar te vestig.

“Die pandemie was veral moeilik om te navigeer en het vir ons ernstige operasionele en logistieke uitdagings gebring. Dit het ons gedwing om anders te kyk na befondsingsmodelle en om steeds die pasiënt heel eerste te stel.”

André wil nou op ander projekte fokus. “Ek is my hele lewe so geseën met geleenthede. Die lugvaartindustrie was nog net goed vir my. Ek voel ek skuld die sisteem iets. Die konstante integrasie van die verskillende fasette binne die lugvaart- en mediese sfeer is veeleisend en ewigdurend. Ek het ’n baie praktiese benadering en is sedert 1995 hierby betrokke. Die span rondom my is buitengewoon sterk en kundig. Dit maak die wêreld se verskil.”

En Boeta? “Spanning en druk is nie altyd negatief nie. As jy fokus op die taak voor jou, kan die druk wat jy ervaar as ’n motiverende faktor gebruik word om die taak suksesvol te voltooi.”

En dít is presies wat hy gaan doen. 

Lees meer artikels hier.