Suid-Afrika skuif na aangepaste vlak 4 vir 14 dae

Deel hierdie storie / Share this story

President Cyril Ramaphosa het vanaand in sy toespraak gesê Suid-Afrika het reeds deur twee golwe van die virus beweeg. Ramaphosa se hy het die land 12 dae gelede gewaarsku die gevalle gaan nog drasties styg. Die aantal positiewe getalle per dag het sedertdien byna verdubbel.

5.1 miljoen mense het al positief getoets vir Covid-19 en 138 000 is al dood as gevolg van die virus.

Saam met die Beta-variant van verlede jaar kry die land nou ook te doen met die Delta-variant. Die Delta-variant is tans teenwoordig in die Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Hierdie variant is baie meer aansteeklik. Mense wat voorheen positief vir die Beta-variant getoets het, is nie immuun teen die Delta-variant nie. Nie baie inligting oor dié variant is beskikbaar nie.

Gauteng is verantwoordelik vir meer as 60% van die land se nuwe gevalle. Volgens pres. Ramaphosa is die land nou amptelik in die derde golf van positiewe gevalle.

Die land sal vanaf môre tot 11 Julie na ‘n aangepaste vlak 4 skuif:

  • Geen samekomste, insluitend godsdienstige en politieke byeenkomste, is toelaatbaar nie.
  • Net 50 mense mag begrafnisse bywoon. Geen na-begrafnissamekomste word toegelaat nie.
  • Die aandklokreël sal van 21:00 tot 04:00 geld.
  • Alkoholverkope word verbied.
  • Besoeke aan ouetehuise word opgehef.
  • Gauteng se grense maak toe, behalwe vir mense wat daar werk.
  • Strande en parke bly oop, maar geen samekomste word daar toegelaat nie.
  • Restaurante mag net wegneemetes verkoop en aflewerings doen.
  • Skole maak Woensdag vir die vakansie toe. Kleuterskole bly oop.
  • Universiteite se klasse eindig 30 Junie; koshuise bly oop.
  • Fliekteaters, museums, oefengimnasiums, teaters en openbare oefengeriewe is gesluit.