Nog strenger inperkingsmaatreëls kan volgende week oorweeg word wanneer die kabinet moontlik vergader.
Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, het Woensdagaand aangedui dat die nasionale koronavirusraad binnekort weer sal vergader en onder meer strenger inperkingsmaatreëls oorweeg.
Kubayi-Ngubane het in ‘n onderhoud op eNCA gesê dit neem twee weke om die uitwerking van inperkings waar te neem. Sy kan dus nie bevestig dat daar wel strenger inperkings sal wees voordat die koronavirusraad vergader het nie.
President Cyril Ramaphosa het verlede Dinsdag aangekondig die land skuif na vlak drie van inperking.
Die waarnemende minister van gesondheid het intussen Woensdagaand ‘n styging van meer as 17 000 nuwe gevalle binne 24 uur aangekondig. Gauteng is op die oomblik een van die mees geïnfekteerde plekke in Suid-Afrika .
Voel jy Suid-Afrika behoort na ‘n strenger vlak van inperking te skuif?



