Tafel Lager Park (die Griekwa Rugby-stadion) is aan die Sol Plaatje Universiteit verkoop.
Arni van Rooyen, CEO van Griekwa-rugby, sê die oordrag behoort binne die volgende drie weke plaas te vind.
“Alles is geteken. Die universiteit het reeds die geld in ons prokureur se rekening inbetaal.”
Van Rooyen wou nie sê vir hoeveel die stadion verkoop is nie.
“Dit maak nie vir ons finansiële sin om die stadion te hou nie. Dit kos baie om dit te onderhou. Ons gaan dit nou by die universiteit huur en alles gaan voort soos normaal. Baie min unies in die land het hulle eie stadion. Dit het nie juis ’n invloed op ons nie.”
Die unie-bestuur en Sol Plaatje Universiteit sal gereeld vergader om saam te werk oor wat daar gebeur.
“Die universiteit se ander sportgeriewe is reg langsaan. Hulle wil bv. ’n Varsity Cup aanbied en kan dit nou gebruik vir rugby en sokker.”
Hy sê die ontvangs van dié transaksie was sover positief. “Almal sien die doel daarvan.”
Die geld wat Griekwas ontvang vir die verkoop van die stadion, sal belê word. Van Rooyen sê geen kommissie is op die kooptransaksie betaal nie.
Dié verwikkelinge sal geen personeel raak nie.
*Die enigste ander unie in die land wat nog hulle eie stadion besit, is Boland Rugby.



