Daar was heelwat hofdrama terwyl ‘n mammie vergeefs gewag het dat sy ná meer as twee jaar gevonnis moes word.
Sy is Chirelda Lombard (toe 32) van Hondeklipbaai wat tydens haar vorige verskyning erken het dat sy aandadig was aan haar pasgebore baba (later Gabrielle gedoop), se onnatuurlike dood.
Gooi baba op ashoop
In die pleitverklaring op Maandag, 19 April, op Springbok, het sy ook erken dat sy haar baba op ‘n vullishoop te Hondelipbaai gaan “dump” het.
Maandag 21 Junie sou sy in die Springbok-streekshof gevonnis word. Weens twee uitstaande hofstukke kon dit toe nie gedoen word nie.
Die verslae moes aangevra gewees het by die proefbeampte asook ‘n korrektiewe verslag. Die hof was briesend oor die uitstaande verslae en het die verantwoordelike klerk lelik hieroor in die hof geroskam.
Die saak het dus oorgestaan tot Dinsdag.
Sit en snik
Terwyl die skraal Chirelda Maandag gewag het vir haar saak moes sy in ‘n ander hofsaal wag. Hier het sy kop onderstebo gesit en snik. Sy was baie emosioneel, bewerig en het haar vingers teen mekaar gewring. Sy
was geklee in ‘n wit bloese en blou jeans. Later het haar ouers haar ‘n swart jassie en swart mussie gegee.
Voor die aanvang van die hofverriginge Maandag het Chirelda deur middel van haar regsverteenwoordiger, Annamarie Theys, versoek dat die media nie die verrigtinge moes bywoon nie en derhalwe van die hof verskoon moes word.
Die landdros het die aansoek met minagting van die hand gewys. Sy het aangevoer dat media-dekking in belang van die gemeenskap is en met die verrigtinge voortgegaan.
Babadogtertjie in swartsak gekry
Die opspraakwekkende saak spruit uit ‘n voorval wat op 4 September 2018 op die Namakwalandse Weskusdorpie, Hondeklipbaai, gebeur het. Haar vyf dae oue baba was op 4 September in ‘n plastieksak op ‘n vullisterrein deur twee plaaslike inwoners op dié vissersdorpie gevind.
Sy het aanvanklik ontken dat sy ooit swanger was. Toe DNS-toetse dit bevestig, het sy geswig en erken dat dit haar baba is.
Maandag was ‘n ouerige man, Loftus Badenhorst, vermoedelik, haar stiefpa, baie dreigend teenoor FiND iT se verslaggewer en het versoek dat daar geen foto’s geneem mag word nie.
Gluur verslaggewer in hof aan
Badenhorst het verder probeer om die verslaggewer se aandag van die saak af te hou deur hom gereeld in die hofsaal stip aan te gluur… maar sonder sukses.
Volgens inwoners van Hondeklipbaai is Loftus Badenhorst ‘n “bleddy moelike” mens. Chirelda se ma, Rina Badenhorst, het vertel dat sy hoop haar dogter kry korrektiewe straf.
Lombard was aanvanklik aangekla van moord. Sy sal nou op 10 Augustus gevonnis word vir die verberging/verswyging van ‘n geboorte en strafbare manslag.



