Dit skyn asof die donkerste uur vir ‘n voormalige munisipale bestuurder moontlik aangebreek het.
So praat en voel inwoners op Springbok nadat Nevie Aubrey Baartman (62) Maandag in die landdros hier verskyn het.
Die voormalige munisipale bestuurder van die Nama Khoi munisipaliteit (NKM) word daarvan beskuldig dat hy glo betrokke was by tenderbedrog van byna R80 miljoen.
Volgens Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, staan hy en die Cloete-egpaar, Zihaadt “Hangkas” en sy vrou, Maralise Lunnette, klagtes van bedrog van R79.9 mil. in die gesig.
Laagenoemde was die alleen-direkteure van ‘n maatskappy. Hulle maatskappy as ‘n regsentiteit en word dus ook aangekla van bedrog.
Terwyl Baartman gedurende 2013 munisipale bestuurder was, het die twee glo ‘n konstruksiemaatskappy, MPG Construction, gestig. Hierna het die NKM ‘n tender vir ‘n plavei- en randsteenprojek op Springbok geadverteer wat Baartman aan die maatskappy laat toeken het.
Luidens dokumentasie het die maatskappy nie aan die vasgestelde kriteria voldoen nie. Behalwe dít was die korrekte verkrygingsproses glo ook doelbewus verontagsaam.
Mnisi het gesê: “Op 2 Junie het die Valke ‘n dagvaarding aan die drie beteken. Dit het hulle verplig om in die hof te verskyn. Hulle behoort op 3 September weer te verskyn.”
Volgens Zihaadt het hulle net op ‘n dag ‘n hofdatum gekry. Hy het gesê: “Ons weet nie wat in die verklarings van AfriForum en die DA staan nie. Sarel Stone en Annemarie Beukes weet meer as wat ons nou weet.”
Zihaadt vertel egter dat hy baie op sy gemak is oor die hofsaak, wat waarskynlik weer op 20 September op Springbok voortgaan.
Stone het teruggekap en gesê dat daar nog verskeie sake gaan volg wat AfriForum aanhangig gemaak het. Hierdie een is nou die eerste wat hof toe gaan.
Volgens kapt. Paulus Swartbooi van die Nama’s loop die tentakels van korrupsie veel dieper as wat ons dink.
“Politici in posisies sink mekaar se loopbane. Alles ten koste van ons gemeenskappe wat daaronder ly. Ek bepleit dus ‘n bedrogvrye munisipalitiet wat na die behoeftes van die gemeenskappe omsien.”
Baartman was ten tyde van sy amp as munisipale bestuurder ‘n DA-lid. Hy is meer onlangs die leier van die EFF in die Noord-Kaap.
Baie inwoners voel dat daar nou vir ‘n slag ‘n voorbeeld van die “skelms” gemaak moet word. Ongeag wie dit is.



