Die laerskoolhoof wat na bewering ’n 11-jarige leerling in ’n puttoilet laat sak het om ’n selfoon wat daarin geval het, uit te haal, is afgedank.
FiND iT het voorheen berig die Oos-Kaapse departement van onderwys het gesê hy neem kennis van die voorval waartydens die leerling en ander aangesê is om na die selfoon te soek.
“Na ons daarvan in kennis gestel is en die voorval met die verskillende afdelings van die departement bespreek het, het ons die skoolhoof geskors hangende ’n voorlopige ondersoek.”
Fundile Gade, LUR van onderwys in die provinsie, het die leerling se huis besoek waar hy “om verskoning sal vra vir die aaklige manier waarop die skoolhoof die kind behandel het”. Die seun is glo getraumatiseer oor sy mede-leerlinge hom ná die voorval daaroor gespot het.
Die voorval het aan die lig gekom na ’n lid van die gemeenskap ’n video van die voorval gemaak het en dit op sosiale media gedeel het.
Die skoolhoof het die seun glo R200 aangebied indien hy sy selfoon uit die toilet kon kry.



