KYK: Onderwyseres in klaskamer deur ouer aangerand

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Video waarin ‘n ouer ‘n onderwyser op die skoolgrond aanrand tot die onderwyser op die grond val, het onlangs opslae gemaak.

Die departement van basiese onderwys het die voorval ten sterkte veroordeel.

Die voorval het op 15 Junie by die Primêre Skool Phera in die Tsetse-nedersetting in Noordwes plaasgevind.

Die 53-jarige onderwyseres is in ‘n graad 6-klaskamer aangerand.

Mmaphefo Matsemela, LUR van onderwys in die Noordwes, het haar ongelukkigheid oor die ouer se optrede uitgespreek.

“Die departement veroordeel die ouer se optrede teenoor een van ons onderwyseresse ten sterkste. Ons onderwysers is bakens van hoop en moet so behandel word vir hulle groot rol in die opvoeding van ons gemeenskap.”

Die departement het ouers ook gevra om onderwysers as ‘n skaars bate te beskou en hulle te beskerm.

“Die departement smeek ouers om onderwysers op te pas en hulle nie kwaad aan te doen nie,” het Matsemela gesê.

Volgens die verklaring is ‘n span sielkundiges na die skool gestuur vir berading vir onderwysers en leerlinge.