SCHWEIZER-RENEKE. – Nóg ‘n kaalfoto, dié keer van ‘n DA-raadslid, het onlangs in Schweizer-Reneke opslae gemaak.
Die 49-jarige Sarel Strydom, wat al vir 10 jaar ‘n DA-raadslid op dié dorp is, sê die naakfoto van hom is per ongeluk of deur kuberkrakers op die WhatsApp-groep geplaas.

Strydom was glo besig om die Virtual Comrades te hardloop toe sy lewensmaat vir hom sê hy het pas iets op die WhatsApp-inligtingsgroep van die dorp geplaas. Hy het dit ‘n minuut later verwyder, maar die foto is toe al deur ‘n paar mense gestoor en intussen rondgestuur.
In ‘n onderhoud met Netwerk24 sê Strydom dat hy ongeveer 2 200 foto’s op sy selfoon het en dat dié spesifieke foto in ‘n sekere afdeling gebêre was. Hy sê hy het geen idee hoe dit op die groep kon kom nie.
“Ek weet regtig nie hoe dit gedeel is nie. Ek het selfs op ‘n kol gedink dit kan hackers wees, maar ek is nie slim genoeg om dit te verduidelik nie.” Sy selfoon was in ‘n drasakkie aan sy lyf en sy hardloopbewegings kon ook veroorsaak het dat dit foto per ongeluk gestuur is.
Verder sê Strydom hy het die kaalfoto van homself, net in sy plakkies, geneem om sy vordering dop te hou ná hy in Januarie met Pilates begin het en op sy 50ste verjaardag in Julie “goed wil lyk”.
‘n Kaalfoto van Margaret van Wyk het in 2016 ook op dié dorp opslae gemaak toe sy dit per ongeluk op ‘n hokkiegroep gedeel het. – Netwerk24



