“As ek tyd kon terugdraai, sou ek dit weer doen. Hare groei terug en daar was net een geleentheid om die gebaar saam met haar te doen, so ek is nie spyt nie.”
So vertel Corniel van Vuuren (26) van die dag wat sy haar suster, wat in Maart met kanker gediagnoseer is, verras het en haar hare saam met haar afgeskeer het.
Dit was ‘n geheim
Corniel vertel dat sy nie vooraf vir haar sussie, Tanya Pike (29), vertel het wat sy beplan het nie.
Tanya het ‘n fotosessie gehad saam met haar man, Calvin, en haar twee kinders, Aiden en Alayna, waartydens haar man haar hare afgeskeer het.

Baie emosionele ervaring
“Dit was vir seker vir my ‘n emotional ervaring, maar ek’t myself getroos daaraan dat ek my hare nou kan skenk, dalk vir ‘n klein dogtertjie wat dit rêrig nodig het.”
Tanya het haar eerste chemosessie op 3 Junie ondergaan. Die foto’s is op 5 Junie geneem.
Corniel vertel: “Ek het met haar man, die fotograaf, Elsa Vermeulen, en my pa gekonkel sodat ek in my pienk rok kon opdaag net voor hulle klaar is met die foto’s.
“Ek het opgedaag sonder dat sy enigiets verwag het, en ek het voor haar gestaan met die skêr en die clipper in my hand en gesê: ‘Dis nou my beurt.’ Sy het in trane uitgebars,” vertel Corniel.





Tanya vertel oor tyd toe sy gediagnoseer is
Oor die tyd toe sy met kanker gediagnoseer is, vertel Tanya: “Omdat my ma so jonk dood is aan dieselfde ding, is die groot K-woord ‘n sensitiewe saak vir die familie. Ek het dit eers stilgehou tot ek my biopsie-uitslae gekry het. Dit was glad nie vir my maklik om hulle te vertel nie, maar hulle is baie supportive. Ek dink nie dis maklik vir hulle ook nie, omdat hulle die prentjie van my ma kry, maar dinge het so verander van 15 jaar terug. Ek, aan die ander kant, vat hom soos hy kom. Ek probeer sterk wees vir my familie en natuurlik vir my kinders se onthalwe. Kanker en chemo is nie maklik nie, maar jou mindset moet reg wees as jy hierdie fight wil wen. Om te sit en mope gaan jou nêrens bring nie. Party dae huil ek skelm in die stort en kry dit uit my sisteem, ander dae vergeet ek heeltemal dat ek eers kanker het.”
Geskok oor sussie se ‘selfless’ daad
Tanya sê sy was baie geskok toe Corniel vir haar sê dat sy ook haar hare gaan afskeer. “Ek kon nie glo dat sy iets so selfless vir my wou doen nie.”


Corniel lag en sê die “koelerigheid” op haar kop is nog iets om aan gewoond te raak, maar dat sy haarself weke vooraf al daarvoor kon voorberei toe sy dit beplan het.
Hoekom Corniel besluit het om ook haar hare te skeer
“Ek en Tanya het maar nog altyd ‘n sterk band. Ek wou op ‘n manier vir haar wys dat sy nie alleen is nie en dat ek hier is vir haar, al is ek ver. Ek kon nie aan enige ander manier dink as om my hare ook saam met haar af te skeer nie. Sy het ‘n paar komplikasies gehad na sy ‘n dubbele masektomie gehad het en toe sy hoor dat sy chemo moes kry, het dit haar gebreek, al het sy probeer sterk wees voor almal anders. ‘n Vrou se borste en hare is immers deel van jou vrouwees.”

Die susters se ma het in 2006 haar stryd teen kanker verloor en Corniel sê dit was vir hulle maar emosioneel toe Tanya ook gediagnoseer is. “Mens kan net hoop, bid en vertrou dat God haar ten volle sal genees.”
Corniel sê haar boodskap aan haar sussie is: “Daar is so baie wat ek vir jou wil sê, maar my woorde is min. Sus, jy is die ware definisie van ‘n ‘ystervrou’. Jou deursettingsvermoë sal maak dat jy nog berge kan versit. Dis okay om nie altyd okay te wees nie en ek is hier vir jou, elke oomblik van hierdie reis. Jy sal nooit alleen wees nie. Jy is en sal altyd my rolmodel wees. Ek is lief vir jou, my sussie!”
Tanya sê: “Ek dink nie daar sal ooit woorde wees om my liefde en dankbaarheid aan haar te verduidelik nie. Al wat ek kan sê, is: ‘Thank you for always having my back, sonder enige vrae! Ek’s oneindig lief vir jou, Niela!!'”



