Laurel Hubbard, die Nieu-Seelandse gewigopteller, is die eerste transgender atleet ooit om aan die Olimpiese Spele deel te neem.
Die 43-jarige Hubbard sal op 2 Augustus in die vroue-swaargewigkategorie deelneem.
Sommige mense is gefrustreerd oor hulle glo dat Hubbard, wat in 2012 haar transformasie ondergaan het, ‘n onregverdige voordeel bo ander atlete het.
Hubbard het by die 2017-wêreldkampioenskappe silwer gewen en sesde geëindig in die 2019-kampioenskappe en sê sy is baie bly omdat sy gekies is.
“Ek is dankbaar oor die vriendelikheid en ondersteuning wat ek van soveel Nieu-Seelanders ontvang het,” het Hubbard in ‘n verklaring gesê. “Toe ek drie jaar gelede my arm by die Statebondspele gebreek het, is daar vir my gesê my sportloopbaan is verby. Maar julle ondersteuning en bemoediging het my deur die donker gedra.”
Hubbard het vir 35 jaar as ‘n man geleef en het toe nie aan internasionale gewigoptel deelgeneem nie. Sedert haar transformasie het sy al verskeie titels verower.
Kereyn Smith, die Nieu-Seeland Olimpiese komitee se hoof uitvoerende beampte, het gesê Hubbard sal in die span verwelkom word.



