Man in hof ná vrou dood in slaapkamer gevind is

Deel hierdie storie / Share this story

SENEKAL. – ‘n Man het dié week in die landdroshof op Senekal verskyn ná sy vrou Sondagoggend dood in hul huis aangetref is.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, is die polisie om ongeveer 07:45 Sondag na die egpaar se huis ontbied.

Johanna Maryna Venter se liggaam (48) is in die slaapkamer van die huis gevind.

Die 52-jarige Abraham Thomas Fourie het die polisie by die huis ingewag en homself as Venter se man voorgestel.

Venter is op die bed aangetref. Sy het op haar rug gelê met brandwonde aan haar gesig en twee wonde tussen haar oë.

Sy is op die toneel dood verklaar.

Beslag is gelê op twee bloedbevlekte baadjies van Fourie en hy is in hegtenis geneem.

Hy verskyn Maandag weer in die hof wanneer hy formeel om borgtog sal aansoek doen. – Maroela Media