December 3, 2021

Geestelike leesstof in Afrikaans vertaal

Die onderstaande twee geestelike nie-fiksie titels deur internasionale top verkoper skrywers is in Afrikaans vertaal en tans beskikbaar op die boekwinkels se rakke. Ek het heerlik aan al twee gelees en die inhoud van waarde en ’n groot seën gevind.

Onwankelbare hoop (Max Lucado)

Max Lucado se Unshakable Hope is oorspronlik in 2018 in die VSA uitgegee. Dit is in Afrikaans deur Liezl Potgieter vertaal. Christian Struik Media gee dit onder die titel Onwankelbare hoop uit.

Lucado ondersoek in hierdie boek twaalf van God se beloftes om vir ons hoop voor te hou en praktiese leiding te bied om moeilike omstandighede te hanteer. Hierdie beloftes rus ons toe om uitdagings te oorkom, standvastigheid te ervaar en wyse besluite te neem. Die lokteks op die agterblad lui: “In ’n wêreld vol wanhoop, depressie, angs en onsekerheid het ons nie nóg ’n kenner se mening of nog ’n selfhelpplan nodig nie, maar die ewige beloftes van ons almagtige en liefdevolle God om aan vas te hou.      

Uittreksel: Ons bou ons lewe op God se beloftes. Want sy Woord is onbreekbaar, ons hoop is onwankelbaar. Ons staan nie op die probleme van die lewe of die pyn in die lewe nie. Ons staan op die allerhoogste en kosbaarste beloftes van God (13).

Meer oor die skrywer: Max Lucado se boeke pryk op topverkoperlyste en is al in meer as 54 tale vertaal. Die New York Times beskou hom as een van die invloedrykste leiers op sosiale media. Hy is predikant by Oak Hills Church in Texas.

Onwankelbare hoop beslaan 217 bladsye. Bestel jou kopie hier.

Die soektog van ’n leeftyd (John en Lisa Bevere)

John en Lisa Bevere se Pathway to His Presence is in 2016 in die VSA uitgegee. Lana Coetzee het die Afrikaanse vertaling behartig. Christian Struik Media publiseer dit onder die titel Die soektog van ’n leeftyd.

Die skrywers kyk vanuit ’n Bybelse oogpunt na agt hindernisse wat ons van God se teenwoordigheid kan weerhou en wys hoe ons deur hierdie versperrings (bv. ongehoorsaamheid en onvergewingsgesindheid) kan breek. Die lokteks op die agterblad lui: “Is dit vir jou moeilik om te vergewe en te vergeet? Bekommer jy jou meer oor die goedkeuring van mense as oor goedkeuring van God? Breek deur die versperrings en ervaar ’n dieper, inniger verhouding met God.

Uittreksel: In plaas daarvan dat ons die self dien, moet ons onsself nou weer eens aan die Skepper onderwerp en oorgee. Om van bewustheid van die self ontslae te raak, moet ons ’n bewustheid van God kweek (163).

Meer oor die skrywers: John en Lisa Bevere is beide leraars en topverkoperskrywers. Hulle is ook die stigters van Messenger International en die aanbieders van “The Messenger”-televisieprogram.

Die soektog van ’n leeftyd beslaan 226 bladsye. Bestel jou kopie hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *