Absa Wildeklawer-toernooi gekanselleer

Deel hierdie storie / Share this story

“Dit is met spyt dat die Exco van Absa Wildeklawer Sport moet aankondig dat vanjaar se toernooi van 7-9 Augustus te Kimberley afgestel is.”

Dit was die wens van Absa, Wildeklawer en Hoërskool Diamantveld dat die toernooi vanjaar sal plaasvind.

Die volgende faktore het egter die besluit genoodsaak:

• die werklikheid van die derde vlaag van die Covid-pandemie in Suid-Afrka, met ‘n gevolglike toename in infeksies – slegs sewe weke voor die aanvang van die toernooi;

• die Departement van basiese onderwys se opskorting van alle kontaksport, en die hoë
onwaarskynlikheid dat die verbod teen 26 Julie, wanneer die skole vir die derde kwartaal heropen, opgehef sal wees. Die verwagting is dat die DBO eers na die heropening van die skole, en op grond van die heersende Covid-situasie in die land, ‘n besluit sal neem;

• sommige skole het hulle bekommernis uitgespreek oor of die toernooi moet plaasvind en sommiges het gesê dit moet gekanselleer word.

• die veiligheid en gesondheid van alle leerlinge en opvoeders bly die hoogste prioriteit.

“Die Exco besef die belangrikheid van die toernooi vir ons deelnemende skole, en dit is met spyt dat hierdie besluit geneem moes word. Ons vertrou egter dat die sekerheid en finaliteit wat hierdie besluit bring, ook
in die beste belang van alle skole sal wees.

Die 2022-toernooi is reeds geskeduleer vir die naweek van 30 April te Kimberley. Absa Wildeklawer Sport sal alles moontlik doen om van hierdie geleentheid ‘n besondere hoogtepunt te maak. Kom ons vertrou dat
die nuwe normaal teen daardie tyd meer voorspelbaar en bestuurbaar sal wees.
Die insette van alle betrokkenes wat baie hard gewerk het ten einde die 2021-toernooi te laat realiseer, word met groot dank erken. ‘n Spesiale dankwoord aan Niel Marais en Hoërskool Diamantveld, en Carin
van Tonder van Wildeklawer vir hul onvermoeide ywer. – Jannie van der Westhuizen, voorsitter van Absa Wildeklawer Sport