KWAZULU-NATAL. – Duisende mense het Dinsdag op die dorpie KwaHlathi naby Ladysmith in KwaZulu-Natal gestroom om self te gaan “diamante” soek na ongeïdentifiseerde klippe onlangs in die gebied gevind is.
Netwerk24, wat met ‘n geoloog gepraat het, sê egter die “diamante” is waarskynlik kwarts wat van die Drakensberge afkomstig is.
Ongeveer 2 000 mense het Dinsdag in KwaZulu-Natal in die KwaHlathi-gebied na die diamante kom soek en meeste van hulle het nie maskers aangehad of sosiale distansiëring gehandhaaf nie.
‘n Verklaring wat deur die departement van minerale bronne en energie, asook die departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake bekendgemaak is, sê die nuus van die “stene” wat in die omgewing gevind is, het baie mense daarheen gelok.
“Ons is bekommerd oor die bedreiging wat dit vir die gesondheid en veiligheid van die mense kan inhou.”
Dié departemente was Dinsdag in die gebied om die stene te ondersoek en sê die uitslae sal na 30 dae bekend wees.
In die verklaring word verder ‘n beroep gedoen op mense om nie verder na die gebied te stroom nie.



