Kby-jongman twee maande by myn toe fratsongeluk sy lewe eis

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP. – Adrian Wepener, die 22-jarige man van Kimberley wat Maandag in ‘n fratsongeluk oorlede is, het maar twee maande by die myn gewerk.

Wepener en sy span was volgens ‘n verklaring van die myn besig om “slimes” pype op die Apies Rus-myn skoon te maak toe ‘n pyp, wat deur ‘n hyskraan opgehou is, op hom geval het.

Hy het ‘n ernstige wond aan sy kop opgedoen en paramedici is dadelik na die toneel ontbied.Hy is op die toneel behandel totdat die ROCKET HEMS-lugambulans opgedaag het.

Hy is egter oorlede voor die lugambulans hom na ‘n hospitaal kon vervoer.

Wepener het vir twee maande as ‘n elektrisiënsassisent (electrical assistant) gewerk. Hy was 22 jaar oud.

Medelye stroom intussen in op Wepener se sosialemediablaaie en vriende en familie deel foto’s van hom.

“Dit voel nog onwerklik, jy is nog so jonk, en altyd vol energie en jokes waneer ek jou sien. Rus sag by Jesus. Jy is daar bo saam met jou ma, Marlene Nathanson en jou tannie, Benita Nathanson,” lui een van die inskrywings.

Nog iemand skryf: “Boeta, vandag is baie se harte geruk… Vaarwel AD… Rus in vrede, jou goeie siel.”