Die 28-jarige Tiaan du Preez sê dis sy grootste droom om mense te vermaak met sy danspassies, sy sangtalent en sy liefde vir musiek.
Du Preez, wat op Uitenhage woon, sê sy liefde en sy passie vir musiek kom al van ‘n baie jong ouderdom af. “My ouers vertel altyd ek het van kleintyd af al gedans wanneer hulle musiek aangesit het.”


Hy sê hy het nooit regtig by die skool opgetree nie, maar sy mede-leerlinge was altyd verbaas wanneer hy, wat eintlik oor die algemeen maar ‘n stil outjie is, by ‘n sokkie sy dansbewegings begin uitvoer het.
Du Preez vertel niemand het hom geleer dans nie, maar hy het so oor die jare homself geleer.
Kyk hier na een van sy dansvideo’s.
Behalwe vir sy dansbewegings, skryf Du Preez ook sy eie liedjies en het hy ‘n vervaardiger wat vir hom musiek maak. Hy het ook ‘n YouTube-kanaal. Hy lewer ook resensies van ander kunstenaars se musiek op sy Facebook-blad, SPAM (Super Passionate About Music).
Du Preez ondersteun ander kunstenaars ook. “Ek word nie daarvoor betaal nie, maar doen dit uit my liefde vir musiek.”
“Ek probeer maar altyd om positief te bly. Daar is te veel negatiewe dinge in die lewe en daarom probeer ek om nooit enigiets negatief te sê nie.”
Du Preez hanteer die haters in sy lewe op dieselfde manier. “Soos een van my kletsrymliedjies, Kyk vir My, is net vir die haters.”
Verder deel hy ook foto’s van sy indrukwekkende CD-versameling. “Ek hou nogal van ‘n CD.”


Du Preez was ook vir twee jaar ‘n dansinstrukteur in Port Elizabeth.
Omdat Uitenhage ‘n baie klein plek is en min geleenthede bied vir opkomende kunstenaars, sê Du Preez het hy nie op die oomblik ‘n werk nie, maar is dit vir hom ‘n groot droom om mense te kan vermaak met sy musiek en danspassies.
Oor of daar iemand spesiaals in sy lewe is, lag hy en sê: “Ek is getroud met musiek!”



