MIDDELBURG. – ’n Ma (24) het glo Vrydagaand haar drie maande oue babadogtertjie op die grond gegooi nadat sy gedreig het om die baba dood te maak.
LEES OOK: Roudiens vir Hansie Strydom
Gooi baba op grond
Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, sê die ma en baba het vir die baba se pa op ’n plaas gaan kuier waar hy werk. By hulle aankoms wou die pa hulle glo nie inlaat nie, waarna die ma gedreig het om die baba dood te maak. Die ma het daarna die baba op die grond neergegooi.
Op toneel dood verklaar
Paramedici is ontbied en het die baba op die toneel dood verklaar.
Die polisie het ’n saak van moord oopgemaak en die ma dadelik in hegtenis geneem.
Dit het ook aan die lig gekom dat die ma oorspronklik van Zimbabwe afkomstig is en glo onwettig in die land is.
Die ma sal vandag in die Middelburg-landdroshof op ’n aanklag van moord sowel as ’n aanklag van oortreding van die Immigrasiewet verskyn.
LEES OOK: Ek was in ‘n inrigting, wat nou?



