“My seun het op 17 aanhoudend na ‘n sekere liedjie begin luister. Ek het aanvanklik niks daarvan gemaak nie, maar dit het my na ‘n rukkie begin pla. Toe stuur hy die een aand vir my ‘n boodskap vanuit sy kamer en sê hy is vreeslik lief vir my, ek moet dit altyd weet. Toe sê ek vir my man iets is fout, hy moet solank die bakkie start.”
Alida Watson vertel van die dag wat sy op haar seun (nou 18) afgekom het toe hy probeer het om selfdood te pleeg deur pille te drink.
Op ses jaar Ritalin voorgeskryf
Op sesjarige ouderdom is Dylan Watson met ADHD gediagnoseer. Die dokters het vir hom Ritalin voorgeskryf en sewe jaar later, op die ouderdom van 13, is hy met depressie gediagnoseer.
Sy ma vertel dat hy, tydens ‘n besoek aan ‘n privaat psigiater, met ernstige depressie en angstigheid gediagnoseer is.
Homself op 15 begin sny
“Hy is toe weer op ander medikasie gesit, maar hy het steeds ‘n downfall ervaar. Hy was tussen 15- en 17-jarige ouderdom ‘n cutter, iets wat dokters later vir my sou sê die manier is waarop hy aan emosionele pyn uitlating gee.
“Iemand het by die skool vir hom gesê hy moet homself eerder gaan doodmaak. Hy het my daarvan vertel, en so twee of drie dae later het hy na die een spesifieke liedjie begin luister – Whiskey Lullaby van Brad Paisley.
Die aand wat hy probeer selfdood pleeg het
“Ek het aanvanklik niks daarvan gemaak nie, maar dit het my na ‘n rukkie begin pla. Toe stuur hy die een aand vir my ‘n boodskap vanuit sy kamer en sê hy is vreeslik lief vir my, ek moet dit altyd weet. Toe sê ek vir my man iets is fout, hy moet solank die bakkie start.
“Toe ek in sy kamer kom, was hy reeds besig om sy pille te sluk. Ons het met hom hospitaal toe gejaag en toe ons daar aankom, het hy inmekaargesak.
“Hy was vir ‘n paar dae in die intensiewesorgeenheid opgeneem voor hy ontslaan is, maar hy het ‘n paar dae daarna weer begin om goed te sê soos dat hy nie ‘n rede het om te lewe nie.”
Rede vir sy depressie
Alida sê sy dink die rede vir Dylan se depressie is maar sy huislike omstandighede. “Ek moes weens my eie mental health probleme ophou werk en ek dink hy voel dat die lewe maar swaar is. Hy voel dalk of hy nêrens gaan kom nie.”
Alida vertel dat sy tot vandag toe nog voel dat dit haar skuld is. Sy sê sy hou haar seuns baie goed dop.
“Hy mag byvoorbeeld nie sy kamerdeur toemaak nie en hy mag ook nie die huis verlaat nie. Al wanneer ek hom nié sien nie, is wanneer hy gaan slaap.”
Raad aan ander ouers
Haar raad aan ander ouers is om op te let na sekere tekens van depressie.
“Hy sal baie stil raak en homself van die res van die familie isoleer. Hy sal in sy kamer gaan sit en hom heel afsonder van die res van die huis. Dit, óf hy sal die nar in die familie probeer wees. Een ding wat ek by my jongste seun (12) ook opgelet het, is dat hy chroniese maagpyn het.
“En luister na jou kind wanneer hy vir jou iets probeer sê. Moet dit nié as ‘n grap afmaak nie, kry die nodige hulp.”
Indien jy of enigeen wat jy ken hulp nodig het, skakel die Suicide Crisis Helpline by 0800 12 13 14.



