September 24, 2021

Die misterieuse moord op Jacoba ‘Bubbles’ Schroeder

“Good-Time-Girl” en “Bubbles” was maar net twee van die byname wat sy gehad het.

Die misterieuse moord op Jacoba ‘Bubbles’ Schroeder

Die misterieuse moord op Jacoba ‘Bubbles’ Schroeder

Jacoba Schroeder is gebore op 8 Junie 1931 op Lichtenburg, in ’n tyd waarin dit verwag was van ’n vrou om ’n maagd te bly tot die dag wat sy trou.

Schroeder het op die jong ouderdom van 17 jaar gevoel dat Johannesburg se ligte vir haar skitter, min wetend dat sy nog 70 jaar later opskudding in Suid-Afrika gaan veroorsaak.

LEES OOK: Sekstorsie en kubermisdaad op jou foon – Mike Bolhuis gee raad

“Good-Time-Girl” is sy gedoop

“Good-Time-Girl” en “Bubbles” was maar net twee van die byname wat sy gehad het. 

Dié wat haar geken het, het geweet sy weet hoe om ’n “lekker tyd” te hê en dit het sy ook gehad die aand van haar moord.

Haar laaste aand

Sy het die aand van 15 Augustus 1949 saam met vriende, onder andere David Polliack en sy neef Hyman Leibman, by Polliack se ouers se herehuis in die spoggerige voorstad Illovo gekuier. Leibman het die aand, nadat hy sy meisie huis toe geneem het, aangebied om ’n besope Schroeder huis toe te neem.

Volgens Polliack was Leibman net 20 minute weg en met sy terugkoms het hy baie vererg aan hom vertel dat Schroeder mal is.  Sy het blykbaar oproerig geraak in die kar en wou bestuur. Nadat Leibman geweier het, het sy daarop aangedring dat hy haar dadelik aflaai. 

Hy het sonder dwang gestop en haar afgelaai by die Dunkeld-busterminaal en terug huis toe gery. Schroeder se laaste woorde aan Leibman was: “Moenie verbaas wees as jy van my lyk lees in môre se koerant nie.”

Polliack het in sy verklaring gesê hy was kwaad oor sy neef se optrede en hy het dadelik gery om Schroeder te gaan soek. Sonder enige sukses.

Schroeder se lyk is 30 ure later gekry deur mnr. Samel Mobela, ‘n algemene werker by Birdhaven-plantasie.  Haar liggaam is 5.9 km weg van waar Leibman haar afgelaai het, gevind. Sy het op haar rug in ’n afgebrande veld gelê, met haar gesig na regs gedraai. Schroeder se arms en bene het in vreemde posisies gelê asof iemand dit so geplaas het. 

Die dokter wat die nadoodse ondersoek gedoen het, het met sekerheid gesê alhoewel van haar klere geskeur was, was Schroeder steeds ’n maagd tot en met haar dood.  Sy het net kneusplekke en krapmerke aan haar nek gehad.

Skuldig of onskuldig?

Polliack sowel as Leibman is in hegtenis geneem, maar albei is afsonderlik weer vrygelaat omdat die polisie geen voldoende bewyse van hulle skuld aan die Johannesburgse magistraat hof kon lewer nie.

Al die betrokkenes in die saak is al oorlede, behalwe Leibman wat waarskynlik nog in ‘n Seepuntse aftreeoord bly.

’n Misterie sal die moord op Bubbles Schroeder altyd bly.

LEES OOK: Verdagtes op vrye voet na moord op familie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *