Ondersoek by Hoërskool DF Malan ná beweringe oor LGBTQI+ diskriminasie

“Die uitkoms was presies wat die skool wou verhoed,” lui die verklaring.

Ondersoek by Hoërskool DF Malan ná beweringe oor LGBTQI+ diskriminasie

Ondersoek by Hoërskool DF Malan ná beweringe oor LGBTQI+ diskriminasie

KAAPSTAD. – Die Wes-Kaapse departement van onderwys ondersoek tans bewerings van diskriminasie teen LGBTQI+-leerlinge by DF Malan in Bellville.

Dit volg ná die skool daarvan beskuldig word dat die regte van LGBTQI+-leerlinge geskend is. Dié leerlinge wou glo die begin van die internasionale Pride-maand gedurende pouse vier, maar is toe glo gedreig en geïntimideer. Pride-maand is ‘n tydperk waarin die LGBTQI+-gemeenskap gevier word.

LGBTQI+ verwys na homoseksuele, biseksuele, transgender- en interseks-gemeenskappe.

LUR Debbie Schafer het gesê die bewerings maak haar baie bekommerd.

“Dié tipe gedrag het absoluut geen plek in ons skole nie. ‘n Ondersoek is tans onderweg om die feite van die voorval vas te stel en ons wag vir die uitkoms.”

Die skool het in ‘n verklaring gesê hy sal alles in sy vermoë doen om ‘n herhaling van die gebeure te voorkom.

‘n Leerling het glo ‘n versoek gerig aan die skool vir die geleentheid om Pride-maand te vier. Die skoolhoof het die versoek van die hand gewys en gesê dat so ‘n geleentheid tot spanning en verdeeldheid in die skool kan lei.

“Sommige leerlinge het toe egter besluit om wel gedurende pouse bymekaar te kom. Soos wat die skool verwag het, het dit daartoe gelei dat ‘n groep leerlinge onaanvaarbare aanmerkings gemaak het. Hierdie aanmerkings is heen en weer geslinger. Die uitkoms was presies wat die skool wou verhoed,” lui die verklaring.

“Ons doelwit is steeds om inklusief te wees en ‘n veilige ruimte vir elke leerling te skep.”

Bygewerk: Die skool het intussen in ‘n verklaring jammer gesê oor die gebeurtenis. Lees hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *