LONDEN. – Wayne Couzens, ’n lid van die metropolitaanse polisie in Londen, het skuld beken vir die ontvoering en verkragting van Sarah Everard (33).
Volgens die BBC het hy ook verantwoordelikheid aanvaar vir die dood van Everard, maar nie op die aanklag van moord gepleit nie.
LEES OOK: Hartseer, woede – Yolandi Botes se dogter laat haar stem hoor
Sarah Everard verdwyn
Sarah Everard, ’n bemarkingsbestuurder, het op 3 Maart 2021 verdwyn nadat sy omstreeks 21:00 ’n vriend se huis in Clapham verlaat het.
Sy het glo van die vriend se huis na haar huis in Briton geloop toe sy vermis geraak het.
Couzens is op 9 Maart 2021 in verband met haar verdwyning in hegtenis geneem. ’n Vrou is ook op dieselfde dag in hegtenis geneem omdat sy na bewering ’n medepligtige was.
Liggaam gevind
Everard se liggaam is op 10 Maart 2021 in ’n sak, die tipe wat gebruik word vir boumateriaal, gevind en haar tandheelkundige rekords moes gebruik word om haar te identifiseer.
Couzens het via ‘n video-skakel in die Old Bailey-strafhof verskyn.
Daar word steeds op mediese verslae gewag. Die saak sal op 9 Julie 2021 voortgaan.



