Huldeblyke vir Reef stroom van oraloor in

Deel hierdie storie / Share this story

Huldeblyke stroom van regoor die wêreld in na Reef Donald James Carneson (12) Vrydagaand om 20:00 sy jarelange stryd teen kanker verloor het.

Reef en sy familie was oorspronklik van Suid-Afrika, maar moes vir Reef se behandeling oorsee verhuis. Hy het eers behandeling by die kinderhospitaal van Los Angeles ontvang, waarna hulle getrek het om naby die Cincinnati-kinderhospitaal in Ohio te wees.

Foto: Corne Low stuur medelye aan Reef se familie vanuit Suid-Afrika. Hierdie inskrywing is op ‘n ondersteuningsgroep, 1 000 Candles for baby Reef, geplaas.
Foto: Inskrywing op Facebook.

”Vlieg hoog vegter, jy het regtig ‘n goeie stryd gevoer en soveel geïnspireer, my ook. Ons hou aan om vir die gesin te bid. Stuur baie drukkies,” skryf nog een op Rock it 4 Reef.

“Ek het Reef se reis jare gelede begin volg en is heeltemal verslae. Sy arme ouers, broers en susters en die res van sy ongelooflike sterk gesin. Hy het ongelooflike krag getoon. Hy is ‘n seun in ‘n miljoen, soveel so dat niemand wou hê dat hy moet gaan nie. Ek wil net hierdie kosbare engel weer pynloos en heel sien en as dit in die hemel is, dan is dit so. Jy het ‘n afdruk op ons almal gelaat,” skryf nog een.

Reef se ouers het ook Saterdag hulle dankbaarheid uitgespreek, maar sê dit is nog baie seer.

“Ons gesin is ongelooflik dankbaar vir al die liefde, terwyl ons die heengaan van ons kosbaarste seun hanteer. Die pyn is ondraaglik en dae van nou af sal ‘n swaar en leegheid hê wat nooit gevul kan word nie. Ons reis vandag na die Bamburgh-strand, die wieg van die Christendom, om God se teenwoordigheid te ervaar en spesiale tyd saam met ons meisies deur te bring en om naby Reef te wees. Ons sal hierdie tyd bestee aan genesing en probeer om ‘n pad vorentoe te sien. Weet dat ons elke boodskap lees, maar om te antwoord, is tans geen opsie nie. God seën Team Reef. Hy sal vir altyd ‘n legende regoor die wêreld wees en ‘n lig wat so helder van God se liefde op aarde geskyn het. Ons is baie lief vir jou Reefie. Ons weet dat jy gelukkig is, maar ons mis jou so baie dat dit seer is,” skryf Reef se ouers op sy blad, Rock it 4 Reef.

LEES OOK: Reef (12) kry sy engelvlerke na kankerstryd

Hou FiNDiT dop vir die nuutste nuus.