OOS-KAAP – ‘n Ma van ‘n pasgebore tweeling en twee ander verdagtes is Donderdagmiddag in hegtenis geneem vir bewerings van mensehandel.
Daar word beweer die polisie het op Woensdag 2 Junie 2021 inligting ontvang oor ‘n moontlike geval van mensehandel. Die ma van vyf dae oue tweelingmeisies het na bewering na ‘n koper gesoek. Die inligting is dadelik opgevolg en daar was gesê die moeder het reeds die babas aan die voornemende koper gegee toe die inligting ontvang is.
Polisie kry inligting oor beweerde mensehandel
Die gesamentlike span wetstoepassers het die inligting opgevolg wat hulle na ‘n huis op Uitenhage gelei het, waar die vermeende koper in hegtenis geneem is en die babas gered is. Die ma van die tweeling en nog ‘n verdagte is later ook in hegtenis geneem.
“Die tweeling is in ‘n hospitaal vir mediese behandeling opgeneem, aangesien hulle gedehidreer en ernstig ondervoed was. Hulle sal later na ‘n veilige plek geneem word,” sê kapt. Yolisa Mgolodela, polisiewoordvoerder.
Drie verdagtes bly in aanhouding
Daar word beweer die voornemende koper sou na verwagting R50 per dag aan die ma van die tweeling betaal om by te dra tot haar beweerde dwelmverslawing. Daar word ook verder beweer die vermeende koper sou aansoek doen vir kindertoelae en maandeliks ‘n gedeelte aan die moeder van die tweeling gee.
Die drie wat in aanhouding bly, sal 7 Junie 2021 in die Uitenhage-landdroshof verskyn, aangesien ondersoeke nog aan die gang is.
LEES OOK: Boer Neil McKay (46) se vermeende moordenaars in hof
LEES OOK: Babaseuntjie lê leweloos na hy tussen ouers aan die slaap raak
Hou FiNDiT dop vir die nuutste nuus.



