Ek lees graag dagstukkieboeke omdat die oordenkings daaraan my elke dag inspireer en herinner aan God se genade en troue liefde. Hierdie duursame publikasies maak ook kosbare geskenke en is iets waaruit die ontvanger daagliks waarde kan put.
Soos appels van goud (Dr Michael Mol en Dalene Reyburn)
Hierdie 366 oordenkings bied daaglikse woorde van wysheid om jou siel te verkwik en jou te inspireer tot ’n gesonder leefstyl. Die dagstukkies oor gesond leef bied kosbare brokkies en pitkos oor liggaamlike, geestelike en emosionele welsyn. Aan die einde van elke week word jy aangemoedig om stil te word voor God en jou gedagtes neer te skryf.
Uittreksel
Om te veel heuning te eet, is nie so goed nie, so ook is iemand wat voortdurend sy eie eer soek. (Spreuke 25:27)
Jy kan ook jou lewer gesond hou deur ’n gesonde liggaamsgewig in stand te hou, weg te bly van dieet-foefies en detoks-wondermiddels, gesonde, onverwerkte kosse te eet en indien jy hoegenaamd alkohol drink, matigheid voor oë te hou. Dat jy moet ophou rook, spreek vanself! (Dag 262)
Meer oor die outeurs
Michael Mol is ’n mediese dokter en lesers kan dus sy raad met gerustheid aanvaar. Dalene Reyburn het ’n meestersgraad in Toegepaste Taalkunde. Beide is topverkoperouteurs en gewilde sprekers.
Vertaal deur Amelia de Vaal uit Apples of Gold.
CUM publiseer Soos appels van goud. Skaf jou kopie hier aan.

In die skadu van die Allerhoogste (Chris Johnsen en Nancy Taylor)
Dié 366 oordenkings hou aan die leser God se beloftes in sy Woord voor: van Genesis tot Openbaring. Sy ewigdurende beloftes bemoedig sy kinders en dien as stewige fondasie en anker in ’n immerveranderende wêreld. Die skrywes is ’n versekering van sy sorg en troue liefde en wys daarop dat die toekoms nie gevrees moet word nie.
Uittreksel
Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin. (Johannes 16:33)
Vandag kan jy leef sonder om bang te wees, want jy weet jou God wat jy liefhet, laat alles volgens sy volmaakte plan uitwerk, vir jou lewe en vir die wêreld. As dinge nog nie reg is nie, is dit omdat God nog nie klaar is nie. Rus in die versekering dat God sal voltooi wat Hy belowe het. (26 Junie)
Meer oor die outeurs
Nancy Taylor is gebore en getoë in Wheaton, Illinois. Sy geniet dit om te reis en uitgewersbedieninge regoor die wêreld te besoek.
Chris Johnsen is die stigter van Christian Art Publishers of South Africa. Nadat hy Brother Andrew se God’s Smuggler gelees het, het hy sy lewe daaraan gewy om met boeke en Bybels te werk.
Vertaal deur Hester Fourie en Doretha Rost uit In the Shelter of The Most High.
CUM publiseer In die skadu van die Allerhoogste. Skaf jou kopie hier aan.

Moed vir elke môre (Milanie Vosloo)
Vroue sal hierdie 366 oordenkings baie inspirerend vind, want dit moedig hulle aan om ten spyte van uitdagings elke faset van vrouwees te omarm en vervullend en met passie te leef. God ken en verstaan elke vrou se unieke persoonlikheid en spesifieke omstandighede. Vier jou menswees in Hom en hou koers te midde van die chaos van hierdie wêreld.
Uittreksel
Selfs as daar dinge is waaroor ons skuldig of onseker voel, weet ons dat God groter is as al ons skuldgevoelens of onsekerhede. Hy weet immers meer oor ons as ons self. (1 Johannes 3:20)
Die wonderlike van ons hemelse Vader is dat ons nie alles in detail aan Hom hoef te verduidelik nie, omdat Hy reeds alles wéét. Ons kan ons onsekerhede by Hom laat, want Hy kén dit; ons sondeskuld voor Hom lê, want Hy wíl dit vergewe, en ons harte voor Hom uitstort omdat Hy ons wil troos. (24 Junie)
Meer oor die outeur
Milanie Vosloo is ’n topverkoperouteur en suksesvolle sakevrou wat graag haar wysheid en lewensondervinding met haar lesers deel.
Die kunswerke in die boek is deur Amylee Weeks gedoen wat in Iowa woon.
CUM publiseer Moed vir elke môre. Skaf jou kopie hier aan.

’n Lewe naby God(Nina Smit)
Die immergewilde en geliefde skrywer, wyle Nina Smit, wys hierin vir hedendaagse vroue hoe om voortdurend met vreugde in God se teenwoordigheid te verkeer. Die 366 oordenkings is opgedeel in 12 onderwerpe – een vir elke maand.Dit is wel moontlik om ’n vrygewige en dankbare hart, ’n positiewe ingesteldheid, ’n betekenisvolle gebedslewe en ’n dieper liefde vir God te ontwikkel en ’n vervulde lewe te lei.
Uittreksel
Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou, oral waar jy gaan. (Josua 1:9)
God gee steeds vir sy kinders die opdrag om sterk en vasberade te wees in swaarkrytye, om nie bang te wees nie, omdat Hy by ons sal wees. Dit sal vir jou moontlik wees om die swaarste verantwoordelikhede te hanteer en die grootste swaarkry te oorkom mits jy die versekering het dat God by jou is om jou te help. En Hy belowe vir jou sy nabyheid – om hierdie rede hoef jy vir niemand of niks te skrik en vir niks bang te wees nie.
Meer oor die outeur
Nina Smit het meer as 200 boeke gepubliseer waarvan verskeie topverkopers was. Sy is op 31 Januarie 2020 in die ouderdom van 75 jaar oorlede.
CUM publiseer ’n Lewe naby God. Skaf jou kopie hier aan hier aan.



