THAILAND. – Gesondheidsbeamptes ondersoek die omstandighede rondom die dood van ‘n 32-jarige vrou van Hat Yai twee weke ná sy haar inenting teen Covid-19 ontvang het.
Beamptes sal ook toestemming vra van die vrou, wat Donderdag oorlede is, se familie om ‘n nadoodse ondersoek te laat doen. X-strale en ander toetse sal volgens dr. Opas Kankawinpong, direkteur-generaal van die departement van siektebeheer, vasstel wat die oorsaak van haar dood was.
Die Thaise ministerie van openbare gesondheid het sy medelye oor die vrou se dood uitgespreek.
Was ‘n assistent
Plaaslike media het berig die vrou, Narilin Angthong, was ‘n assistent vir ‘n dokter by Hat Yai-hospitaal.
Beamptes sal ook opvolg met ander wat inentings van dieselfde groep Sinovac-inentings ontvang het, spesifiek vroue van haar ouderdom.
Geen onderliggende toestande
Volgens voorlopige ondersoek deur die Hat Yai-hospitaal het die vrou geen onderliggende mediese toestande gehad nie. Sy het haar eerste dosis van die entstof op 14 Mei ontvang.
Persone wat teen die virus ingeënt word, word vir 30 minute ná die inenting gemonitor. Die vrou het glo gedurende dié 30 minute abnormaliteite getoon. Sy het glo ook die dag ná die inenting gerapporteer dat sy hoof- en spierpyn ervaar het.
Sy het glo op die sewende dag na die inenting weer ‘n kopseer, moegheid en spierswakheid gerapporteer. Dertien dae ná die inenting het sy ineengestort en daar is met haar na die Hat Yai-hospitaal gejaag.
Hart skielik opgehou klop
‘n Dokter het vasgestel haar hart het skielik ophou klop. Resussitasie is op haar uitgevoer, maar sy is dood verklaar.
Die ondersoek duur voort.



