CHINA. – Die Friends-reünie waarna almal uitgesien het, word in China weens die verwysings na LGBTI-gemeenskappe gesensor.
Toe die program in China uitgesaai is, het uitsaaiers verskeie afdelings uitgesny. Chinese uitsaaiers pas ’n kode vir selfsensuur toe wat daarop gemik is om inhoud wat aanstootlik vir die gehoor en die regerende Kommunistiese Party kan wees, te verwyder.
Toe die eenmalige reünie van die geliefde sitkom uit die negentigerjare op drie Chinese videoplatforms uitgesaai is, is kamees van die beroemdes wat almal die toorn van die regerende Kommunistiese Party ontlok het, uit alle weergawes verwyder.
LEES OOK: Drie dood en twee beseer toe bus en motor bots
Bekende sterre verwyder
Bekende sterre soos Lady Gaga en Justin Bieber se verskynings op die program is ook uitgesny. Lady Gaga is sedert 2016 nie in China se guns nie nadat sy die Dalai Lama ontmoet het. Justin Bieber is ook uit China verban omdat hy glo ’n swak invloed is.
Gedurende die vertoning is daar ook kort videos’s van aanhangers regoor die wêreld gewys wat hul liefde vir die reeks gedeel het, maar afdelings wat verwys het na die LGBTI-gemeenskappe is verwyder.
LEES OOK: Vandag is Wêreld-pleegsorgdag – hoe jy ’n pleegouer kan word



