Drie dood en twee beseer toe bus en motor bots

Deel hierdie storie / Share this story

CENTURION. – Drie mense, waaronder twee kinders, is dood en twee ander is beseer toe ’n bus en ’n motor op die R511 in Centurion gebots het.

LEES OOK: Moederlike jaloesie – taboe, maar nie skaars nie

Bus in die middel van die pad

ER24-paramedici het omstreeks 06:50 op die toneel opgedaag en die bus in die middel van die pad gevind, terwyl die motor in die veld gelê het.

’n Vrou en ’n seun, wat vermoedelik agt jaar oud is, is buite die motor gevind, terwyl ’n ander seun, vermoedelik ses jaar oud, en twee vroue in die voertuig was. ’n Baba van ses maande oud is ook in die motor gevind.

Paramedici ondersoek beseerdes

Paramedici het die beseerdes ondersoek en gevind dat die vrou en kind, wat buite die voertuig gelê het, reeds aan hul beserings beswyk het.

Niks kon vir hulle gedoen word nie en hulle is dood verklaar. Die kind in die motor was in ’n kritieke toestand, terwyl die twee vroue matige beserings opgedoen het.

Die ses maande oue baba het nie beserings opgedoen nie.

Seun beswyk aan beserings

Die kritiek beseerde kind het ondanks die pogings van paramedici aan sy beserings beswyk.

Nadat die twee vroue behandel is, is hulle na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer vir verdere sorg.

Niemand in die bus het beserings opgedoen nie.

Plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoeke.

LEES OOK: Intimiderende eienskappe van ’n sterk vrou