Ek het heerlik gelees aan die volgende splinternuwe kinderboeke wat in Afrikaans vertaal is en is seker dat kinders die boeke ook vreeslik baie sal geniet:
Saadjie en Spikkel (Alex Latimer)
Hierdie is werklik ’n lieflike storie oor grootword, aanvaarding, vriendskap, ontdekking, skeiding en saamwees. Die illustrasies deur David Litchfield is besonder mooi en sal lesers moeiteloos betower. Elsa Silke het gesorg dat die teks in Afrikaans sprankel.
Human en Rousseau Uitgewers publiseer Saadjie en Spikkel. Kry jou kopie hier.

Moet nooit vir ’n T-Rex ’n boek wys nie (Rashmi Sirdeshpande)
Dié heerlike verbeel-verbeel boek is propvol avontuur wat te doen het met dinosourusse en boeke. Boekwurms word aangemoedig om onbevange saam te droom deur die vraag “Wat dink jy sal …?” wat verskeie kere herhaal word. Die helder, kleurvolle illustrasies deur Diane Ewen is prettig en snaaks. Jaco Jacobs het die teks in Afrikaans vertaal.
Human en Rousseau Uitgewers publiseer Moet nooit vir ’n T-Rex ’n boek wys nie. Kry jou kopie hier.

Suidoosterdraak (Dianne Hofmeyr)
’n Oupa en sy kleindogter het vet pret op die strand terwyl daar ’n windstorm woed. Hulle maak allerhande ontdekkings tydens hulle avontuurlike jagtog na die Suidoosterdraak. Carol Thomspon se pragtige illustrasies laat die lesers voel dat hulle deel is van die storie en dat die wind ook deur húl hare wapper. Nandi-Lessing Venter het die vertaling van die klankryke teks behartig.
LAPA Uitgewers publiseer Suidoosterdraak. Kry jou kopie hier.

Kiets in Parys (Dianne Hofmeyr)
Wie sou nou kon raai dat ’n straatkat wat in ’n steeg in Parys gebore is sou opeindig as ’n beroemde madame met haar eie klub? Katliefhebbers sal hierdie oulike katstorie sommer baie geniet en ook dol wees op Piet Grobler se unieke illustrasies met ’n tikkie flambojansie wat die teks gepas komplementeer. Nandi-Lessing Venter het ook vir dié boek se vertaling gesorg.
LAPA Uitgewers publiseer Kiets in Parys. Kry jou kopie hier.



