Seun (4) gee eerste treë na agt operasies om sist te verwyder

Deel hierdie storie / Share this story

ENGELAND. – ‘n Klein seuntjie met ‘n sist so groot soos ‘n pomelo in sy gesig, het nou, ten spyte van die feit dat sy kop se gewig dit moelik maak om te loop en te balanseer, sy eerste treë geneem.

Alex Grabowski is in Januarie 2017 met sistiese higroom – ‘n toestand waarin vloeistofgevulde sakkies ontstaan as gevolg van blokkasie in die limfstelsel – gebore en het sedertdien al agt operasies ondergaan.

Emily Grabowski (35) het op haar 20-week-sonar uitgevind dat haar babaseuntjie dié toestand het.

Sy het die ergste verwag en was onseker oor hoe haar babaseuntjie gaan lyk, maar sê sy het onmiddellik op hom verlief geraak toe hy gebore is.

“Ek was bang om te weet hoe Alex gaan lyk. Daar was so baie wat onbekend was. Maar toe ek hom vir die eerste keer gesien het, het ek gedink hy is so mooi en ek het in trane uitgebars,” sê Emily. “Om na hom om te sien, is harde werk, maar ek sou dit nie anders wou hê nie. Ons weet steeds nie wat die toekoms inhou nie, maar ons bly hoop.”

Alex is met ‘n noodkeiser gebore en moes ses maande in die Bristol Royal-kinderhospitaal, waar hy operasies ondergaan het om die sist kleiner te maak, bly en Emily geleer is om na hom om te sien.

Alex se toestand het in die laaste jaar baie verbeter en hy kan al woordjies vorm soos “Pepa Pig”.

Hy het steeds ‘n tracheotomiebuis om hom te help asemhaal en moet met ‘n voedingsbuis gevoer word, maar Emily hoop dat dit in die volgende paar jaar nie meer nodig gaan wees nie en dat hy meer onafhanklik sal raak.

“Mense het al vir my gesê hy is lelik en ‘n man het al na my toe gekom en my gevra of hy regtig is.”

Alex het ‘n agterstand as dit kom by leer loop en die gewig van die siste in sy gesig maak dit moeilik om te balanseer. Maar nou, na agt operasies, het hy sy eerste treë gegee.

Hy sal egter in die toekoms nog operasies ondergaan om die grootte van die siste te verminder. – The Sun