NOORD-KAAP.- ‘n Poskantoorbestuurder is glo deur ses mans gedwing om Sassa-kaarte ter waarde van R1 miljoen aan hulle te oorhandig. Die Valke se ondersoekspan vir ernstige georganiseerde misdaad vra hulp om hierdie verdagtes op te spoor. Die Valke glo dat hulle kan help met die oplos van ‘n ontvoering- en roofsaak.
Volgens die SAPD het ses mans met gewere in Februarie 2020 ‘n poskantoorbestuurder by sy huis genader. Die mans het hom beveel om die poskantoorsleutels te oorhandig. Drie van die verdagtes het na bewering die man na die poskantoor vergesel terwyl drie ander sy familie gevange in die huis gehou het.
Die bestuurder is toe glo forseer om 500 Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid- (Sassa) kaarte ter waarde van R1 miljoen aan hul te oorhandig. Waarna die mans hom glo terug na sy huis toe geneem het en hul makkers gaan oplaai het.
Enigiemand wat kan help met inligting wat tot die opsporing van hierdie mans kan lei, word versoek om vir lt. kol. Mputsoe by 0824 695 046 te skakel.
Lees ook: Vrou swanger met sewe babas, gee geboorte aan nege



