‘Geen selfverdediging vuurwapenlisensies is absurd’

Deel hierdie storie / Share this story

Agri Noord Kaap het met skok en teleurstelling kennis geneem van die voorgestelde wysigings wat Vrydag 21 Mei 2021 in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer is.

Indien die voorgestelde wysiging aanvaar word, sal dit beteken dat geen individu voortaan ʼn handwapen sal kan lisensieer met die motivering vir aanwending vir selfverdediging nie. Verder stel dit voor dat die aantal wapens wat jagters en sportskuts mag besit ook beperk word. Trouens, dis die enigste kategorie wat voortaan wapens mag besit. Die gevolge van die voorgestelde wysiging sal ook wapenversamelaars en die algemene publiek ontwapen.

Hierdie absurde poging van wapenbeheer het in 2015 en 2018 ook ʼn verskyning gemaak en sal met rasionele argumente en stawende statistieke beveg word.

Duidelik het die Suid-Afrikaanse wetskrywers voeling verloor met die behoefte van die publiek, interpreteer hulle die oorsake van misdaad verkeerd en gaan dit veroorsaak dat die misdaadstatistiek nog meer angswekkend word.

Minder gelisensieerde handwapens in opgeleide en bevoegverklaarde eienaars se hande gaan nie die onwettige gebruik en misdaad verminder nie. Diefstal by die publiek is nie die enigste bron om onwettige wapens te bekom nie. Talle gewapende rooftogte en wapengebaseerde geweld word met AK47’s, R4- en R5-outomatiese masjiengewere gepleeg, wapens wat nog nooit privaat gelisensieer was nie.

“Om die publiek te ontwapen, sal die mate van afskrikmiddel wat tans bestaan vir gewapende rowers, plaasaanvallers en kapers wegneem en Agri Noord-Kaap sal dit beveg op die sterkste moontlike wyse” sê mnr Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap.

Agri Noord-Kaap sal deur sy nasionale affiliasie Agri SA saamwerk om die voorgestelde wysiging van die Wapenbeheerwet so te beïnvloed dat die publiek steeds wettige verantwoordelike handwapeneienaars kan wees om ook hulself en hul eiendom te beskerm binne die wette van die land. Dit is ʼn erkende basiese mensereg en moet respekteer word. Ook die senior politici vind dit nodig om hul topstruktuur beter te beskerm met ʼn verhoogde spandering van R2 miljard van die polisiebegroting aan beskerming van BBP terwyl die algehele polisiebegroting met R4 miljard besnoei is. Dit laat die polisiebegroting met ʼn inkrimping van R6 miljard vir algemene polisiëring en publieke beskerming. Hoe kan hierdie politici dan wetgewing instem om die algemene publiek te ontwapen ten opsigte van selfverdediging?

Agri Noord-Kaap ondersteun ook die persverklaring wat deur Agri SA op 24 Mei 2021 uitgereik is.

Die wapenlisensiëringsproses behoort versnel te word, die termyn van geldigheid van ʼn wapenlisensie moet verleng word en kapasiteit behoort gegee te word aan lisensiëringskantore wat die 250 000 agterstallige wapenlisensies
moet verwerk.