Kultuur: vrouens word met sweep geslaan om diepte van liefde te toon

Deel hierdie storie / Share this story

ETHIOPIË. – Vrouens van die Hamar-stam word tydens ‘n seremonie met ‘n sweep geslaan om die diepte van hul liefde en hul opoffering vir jong mans in hulle familie te toon. Die vrouens moet die hele seremonie deurgaan sonder om een keer van pyn te skree.

Volgens CGTN Africa staan hierdie seremonie bekend as Ukuli Bula. Dit vorm deel van ‘n inisiasieproses vir jong mans. Vrouens wat geliefdes of familie van die jong man is, word met ‘n sweep geslaan om hul liefde aan hom te bewys. Na die inisiasieproses mag die jong man trou.

In plaas daarvan om hulle teë te sit of weg te hardloop, smeek die vrouens eerder die Maza (dis die mans wat reeds die inisiasieproses voltooi het) om hulle meer te slaan. Party sweephale is teer, ander is hard. Vooraf smeer die vrouens hulle lywe met botter om die pynlike effek van die houe beter te kan weerstaan.

Agterna word die merke op die vrouens se rûe met trots afgewys. Dit is ‘n teken van hul moed en integriteit. Verder kan die vrou later, sou sy probleme ondervind, na haar géselaars gaan vir hulp.

Foto: CGTN Africa
Foto: CGTN Africa

Lees ook: Seuntjie sonder taxigeld net so agtergelaat