Keith Vermeulen-moord: 16-jarige verdagte weer in hof

Deel hierdie storie / Share this story

SCHMIDTSDRIFT. – ‘n Tienerseun (16) het vandag weer in die landdroshof op Douglas op aanklag van moord verskyn. Dit volg nadat Keith Vermeulen (40), van Kimberley, se liggaam met ‘n skietwond in sy kop in ‘n veld hier naby gevind is. Vermeulen was glo vir ‘n onbepaalde tyd vermis voordat hy gevind is.

Volgens bronne na aan die familie het Vermeulen saam met ‘n seun (16) op sy familieplaas, Mosesberg, naby Schmidtsdrift, gaan jag.

Moord – eers plaasmoord vermoed

Vermeulen se lyk is deur ‘n skaapwagter op Sondag 28 Maart, 2021 naby die plaas Mosesberg in die Schmidtsdrift-gebied gevind. Die polisie kan nie bevestig of hy op Mosesberg gevind is nie. Dit is ook nie duidelik of Vermeulen se voertuig en vuurwapen gevind is nie.

LEES OOK: VERMEULEN SE DOOD GLO JAGONGELUK

Die verdagte is twee dae later, op 30 Maart, in hegtenis geneem. Aanvanklik is vermoed Vermeulen was die slagoffer van ‘n plaasaanval nadat hy met die skietwond in sy kop gevind is. Volgens die polisie is Vermeulen nooit as ‘n vermiste persoon aangemeld nie.

Vermeulen, ‘n beroepsjagter, was voorheen verloof aan Charlene Croucamp (37) van Kimberley. Die verdagte is glo bekend aan Croucamp.

Vermeulen word oorleef deur sy jong seun, wat by sy ma en haar man in Kimberley woon.

Die saak is tot 29 Junie 2021 uitgestel en die verdagte bly in die sorg van ‘n familielid.

Schmidtsdrift is ongeveer 60 km van Douglas en bestaan uit ’n informele nedersetting, grondpaaie en plase. Sektor drie, waar Vermeulen se liggaam gevind is, strek ongeveer 20 km verder met ‘n grondpad vanaf die Delportshoop-afdraai in Schmidtsdrift.

Die landdroshof op Douglas waar ‘n jong seun op aanklag van moord verskyn het.
B-hof, waar die minderjarige seun vandag verskyn het nadat die lyk van Keith Vermeulen met ‘n skietwond in sy kop gevind is.
Die bord wat sektor drie aanwys.
Die plaashek na sektor drie.

Inwoners geskok oor die nuus

Inwoners van die informele nedersetting op Schmidtsdrift sê hulle was geskok om die nuus te hoor van ’n liggaam wat gevind is en almal het aanvanklik eers gedink dit was ’n plaasaanval.