KAAPSTAD. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAHRC) het ‘n ondersoek ingestel na bewerings van ‘n verbod op die gebruik van Afrikaans by Universiteit Stellenbosch.
Volgens IOL is daar Maandag ‘n verhoor gehou. Dit is deur kommissaris Chris Nissen en die US-rektor en visekanselier, professor Wim de Villiers bygewoon. Tydens die betrokkenheid het De Villiers aan die kommissaris gesê die bewerings dat daar ‘n verbod op die gebruik van Afrikaans op die universiteitsgronde is, is onnwaar.
“Daar is geen verbod op die gebruik van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch nie, nie in lesingsale, in koshuise of op enige ander plek op die kampus nie. Dit is nie ons beleid nie,” het De Villiers gesê.
Klagtes toon dat daar dalk ‘n verbod op die gebruik van Afrikaans by die universiteit is
Leon Schreiber, DA-kiesafdelingshoof op Stellenbosch, sê talle klagtes is aan die SAHRC gestuur. Die klagtes gaan oor bewerings dat studente in koshuise, op die kampus en selfs op WhatsApp verbied is om Afrikaans as kommunikasietaal te gebruik. Hulle word met boetes gedreig.
De Villiers sê: “Daar is geen Engelse beleid in koshuise nie. En studente mag nie verbied word om Afrikaans of enige ander taal te praat nie. Die universiteit kan dit nie goedpraat nie, want dit sal nie ooreenstem met ons visie, ons waardes, sowel as ons taalbeleid nie.”
Nissen het gesê die interaksie was insiggewend. “Ons sal wag op die addisionele inligting wat ons tydens hierdie vergadering gevra het. Ons respekteer ook die onafhanklike ondersoek deur die universiteit. Dit is nog nie voltooi nie, ons sal ook op die verslag wag. “
Schreiber sê De Villiers weier om vir SAHRC antwoorde te gee oor sekere bewerings. Bewerings dat hy in 2015 reeds aan ‘n Stellenbosch-universiteitsraadslid gesê het die universiteit moet ten volle verengels. Omdat dit die “maklikste opsie” sou wees.
“Sy stilte oor hierdie vraag spreek boekdele. Dit dien as ‘n indirekte bevestiging dat De Villiers in ‘n ideologiese oorlog is om die Afrikaanse onderwys heeltemal af te skaf.”
Lees ook: Sol Plaatje-universiteit reageer op studente se vereistes



