Baba in hospitaal na hy aan tandesny-biltong verstik

Deel hierdie storie / Share this story

LYDENBURG. – ‘n Ma wat die afgelope paar dae in die hospitaal langs haar ses maande oue baba, Ayden, se bed in die intensiewesorgeenheid deugebring het, weet nou nog nie hoekom so ‘n fratsongeluk met hulle klein seuntjie moes gebeur nie.

Die familie is verlede Donderdag onderstebo gegooi. Estelle van Niekerk (26) vertel Ayden bly deur die dag by sy ouma terwyl sy voltyds werk. Op die betrokke dag het klein Ayden aan ‘n stukkie tandesny-biltong gekou. Hulle vermoed ‘n stukkie van die biltong het afgebreek en êrens in sy lugpyp gaan lê.

Baba in hospitaal na hy verstik

“Ayden het nie dadelik verstik nie, hy was heel oukei. Hy het ‘n rukkie daarna gaan lê en dis toe dat hy vreeslik aan die stik gegaan het. Hy het die vreeslikste geluide begin maak en sy lippe het blou geraak,” vertel Van Niekerk.

Ayden se pa het hom dadelik onderstebo gehou en gekyk of daar nie iets wil uit nie. Daarna het hy mond-tot-mond asemhaling toegepas. Van Niekerk sê Ayden is van die dokters op Lydenburg per helikopter na die Carden City-hospitaal in Johannesburg geneem.

Foto: Ayden, Facebook

“Ayden is tans onder sedasie in die intensiewesorgeenheid. Die dokters het aan ons gesê sy brein was ‘n klein rukkie sonder suurstof. Gelukkig is daar sover geen interne breinskade nie.”

Hy het tans drukking (swelling) op sy brein, daarom sal hy onder sedasie moet bly tot dit verminder het. Sy ma vertel sy breinaksie word baie goed gemonitor en die dokters maak ook seker dat sy brein deurlopend genoeg suurstof kry. Hulle kan maar nou net sit en wag.

Dankbaar vir die ondersteuning

“Sy regterkantse long het verswak. Hulle gee hom nou sterker medikasie en hy is op ‘n sterker soort masjien gesit wat soos ‘n ventilator werk, maar ook die longe ‘skud’ om die infeksie op die longe los te maak.”

Van Niekerk sê met ‘n hartseer stem hoeveel sy die mense se ondersteuning waardeer. Sy vertel van al die ondersteuningsgroepe wat vir Ayden gestig is, asook mense wat daagliks vir hom bid.

Indien jy ‘n bydrae wil lewer:
Spaarrekening
1755838027
Tak: 470010
Verwysing: Ayden

Foto: Ayden, Facebook

LEES OOK: Seun spring by skoolbusvenster uit toe boelies hom na bewering teiken

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.