KIMBERLEY. – Die hele Kimberley-gemeenskap is in skok na die tragiese dood van ‘n bekende graad 2-juffrou in dié dorp.
Die ongeluk het Vrydagaand om ongeveer 18:48 plaasgevind.
Mariëtte Beeslaar en Charné van Wyk, beide onderwyseresse by Laerskool Eureka in Kimberley, was saam in die motor toe dit teen ‘n vragmotor gebots het. Dit is nog onbekend wat die ongeluk veroorsaak het.
Manie Verreyne, Laerskool Eureka se skoolhoof, sê Van Wyk het verskeie beenbreuke en beserings in die ongeluk opgedoen. Sy is ná die ongeluk na Gariep MediClinic geneem waar sy behandeling ontvang.
Medelye stroom intussen in op sosiale media en Mariëtte word onthou as ‘n “lieflike mens met ‘n passie vir kinders”.
Melissa Janse van Rensburg skryf: “Rus in vrede, Juffrou. Juffrou was ‘n wonderlike mens, een na wie al die proefstudente en so ook al haar kollegas kon opkyk en so baie by haar kon leer.”
Gretchen Botha-Murray skryf: “Dit voel onwerklik. Wat ‘n goeie juffrou met ‘n groot passie en liefde vir kinders. Jy gaan baie gemis word om nie te praat van die klomp 8-jariges nie.”



