KIMBERLEY. – Abubacker ‘Baby’ Richards (84), voormalige president van die Griekwaland-Wes Rugby-unie, is verlede Vrydag oorlede.
Aubrey Everson, ‘n goeie vriend van Richards, wat ook saam met hom rugby gespeel het en saam in die bestuur by die rugby-unie gedien het, sê hy sal Richards altyd onthou as ‘n baie nederige man.
“Hy was ‘n baie nederige persoon en ook ‘n baie menslike persoon. Hy het nooit die sleg in iemand raakgesien nie. Hy het geglo daarin om mense altyd nog ‘n kans te gee.”
Vandag begrawe
Richards is vandag in Kimberley ter ruste gelê.
Richards was ook die eienaar van Kimberley Cole. “Baby het die mense van Kimberley warm gehou in die winter.”
SA-rugbypresident, Mark Alexander, het sy medelye aan die familie en vriende van Richards betoon.
Regtig vir rugby omgegee
“Hy was ‘n baie geliefde en gerespekteerde administrateur wat regtig vir die spel (rugby) omgegee het.”
Volgens Everson was Richards vir ‘n ruk lank siek ná die moord op sy seun in Desember verlede jaar.



