Smaragda Louw van Ban Animal Trading gesels met FiND iT oor hoekom die verandering van die wetgewing oor die teel en aanhou van leeus ‘n goeie idee is. Smaragda sê hierdie leeus word geteel om doodgemaak te word. Onderaan hierdie berig is foto’s en video’s wat sensitiewe lesers kan ontstel.
Volgens Louw is diere-aktiviste ook nie bly oor sprake dat die leeus wat hulself in hierdie omstandighede bevind, uitgesit gaan word nie, maar op die oomblik is daar nie ‘n ander oplossing nie. “Hierdie leeus sou in elk geval doodgemaak word.” Dit gaan ‘n einde bring aan hierdie wrede praktyk van leeuplase.
Die teel en aanhou van leeus is nie vir hul bewaring bedoel nie
Leeus word gebruik om mee te teel sodat daar meer leeus is vir die sogenaamde canned hunting. Hul geraamtes word ook gewoonlik uitgevoer na die buiteland toe. Buitelanders het gebruike vir die leeugeraamtes, onder andere die maak van leeubeenwyn. Lewendig is hierdie leeus van min waarde vir die telers.
Die vang en teel van leeus bevorder geensins die leeus se bewaring nie. Leeus word aangehou in klein hokkies en teel aan, dit beteken inteling vind plaas. Inteling is ‘n baie slegte ding omdat hierdie diere geensins in die wildernis sal kan oorleef nie. Hierdie leeus is letterlik net goed vir hul produkte, soos hul geraamtes.
‘n Ander opsie was altyd die rehablitering van hierdie leeus, maar dit is onmoontlik, sê Louw. Daar is 12 000 leeus wat gewoond is aan mense en wat tien teen een ingeteel is, gevolglik sal die meeste van hulle nie gerehabiliteer kan word nie. Suid-Afrika het ook nie hierdie kapasiteit nie, die hawes vir leeus is vol. Dit sal ook baie studies benodig om te kan kyk watter van hierdie leeus se gene is geskik om gerehabiliteer te word.
Die toestand waarin hierdie leeus aangehou word, is hartseer. Dit kos duisende rande om leeus aan te hou en aan hulle behoeftes te voldoen. Die meeste van hierdie plase is nie in staat om dit te doen nie.
Die veilige hawes vir leeus sal nie deur die beleid geraak word nie. Hierdie plekke mag nie met diere teel nie en hulle kry ook geen geld vir die leeus nie. “Dit wat nie mag gebeur volgens die nuwe beleid nie, doen die hawes in elk geval nie.”
Louw sê sirkusse gaan waarskynlik ook deur die voorgestelde verbod op leeus in aanhouding geraak word, omdat hulle ook met leeus teel of hul leeus by telers koop. “Dit tel as die kommersiële gebruik van leeus.”
Die volgende foto’s is vanaf Karmagawa se Facebook-blad en toon die lewe van hierdie leeus in aanhouding.











